Invoerders waarsku egter dat die verbruiker die spit gaan afbyt vir dié beskerming.

Die Vereniging van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie) het Maandag sy kommer uitgespreek oor die uitwerking van die nuwe beskermende tarief van 35,9% wat op hoenderstukke aan die been gehef gaan word.

Dié tarief, wat lank reeds verwag is, is Vrydag in die Staatskoerant gepubliseer.

Dit volg op ’n tydelike beskermende tarief van 13,9% op bevrore hoenderstukke uit die EU wat in Desember 2016 in werking gestel is en in Julie verval het.

Amie wys daarop dat Europa Suid-Afrika se grootste handelsvennoot is waarheen baie van die land se eie landbouprodukte uitgevoer word.

“Die EU sien die beskermingstarief as ’n aansienlike terugslag vir die voorkeurhandelsverhouding wat tussen die EU en Suid-Afrika geld,” sê mnr. Paul Matthew, aangewese uitvoerende hoof van Amie.

Ooreenkoms

Daar is ‘n vryehandelsooreenkoms tussen die EU en Suid-Afrika. Ingevolge hierdie ooreenkoms moet produkte toegelaat word om tariefvry tussen die twee handelsvennote te beweeg. Matthew sê die tariefverhoging tref Suid-Afrikaanse verbruikers nadelig.

“Suid-Afrika, deur die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu), probeer weer eens  op ’n onbedagte wyse sy eie pluimveebedryf deur ’n invoertarief beskerm.”

Hy sê die geskiedenis het gewys dié beskerming word deurgegee aan diegene wat dit die minste kan bekostig, naamlik die verbruiker.

Hy meen ook Suid-Afrika kan aanspreeklik gehou word daarvoor dat hy nie die tariefverhoging vooraf met die EU en die Sadu se gesamentlike ontwikkelingskommissie bespreek het nie.  Dit is verpligtend ingevolge die vryehandelsooreenkoms.

“Amie bestudeer tans die besonderhede van die beskermende tarief en oorweeg sy opsies.”

Die oorspronklike beskermende tarief teen ingevoerde hoenderstukke van die EU is ingestel ná die plaaslike bedryf beswaar gemaak het omdat die ingevoerde hoender teen minder as die plaaslike produksiekoste “gestort” word.

Dié aantyging word deur die EU ontken.

Ingevoerde bevrore hoender uit die EU was in een stadium gelykstaande aan tot 55% van die weeklikse plaaslike produksie. Die uitbreking van voëlgriep in Europa in 2016 het die plaaslike bedryf ietwat van ’n blaaskans gegee toe ’n tydelike invoerverbod weens gesondheidsredes gegeld het.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.