Die totale dividend wat hy aan aandeelhouers uitbetaal, het in die boekjaar tot einde September 2019 met 11% tot 324c per aandeel gedaal.

Inkomste is wel 11% hoër op R22,7 miljard, maar die wesensverdienste per aandeel het met 6% tot 511c teruggesak.

“Die mielie-waardeketting het die druk van ernstige kosteverhogings en die laer gehalte van die mielie-oes gevoel,” sê die maatskappy in sy verklaring oor die jaarresultate.

Pioneer Foods se voedselafdeling wat onder meer koring en mielies maal en verwerk, lewer die grootste bydrae tot sy inkomste. Danksy vernuwings aan sy bakkerye en verpreidingsketting het broodvolumes gegroei. Sy White Star-mieliemeel is steeds ’n topverkoper, maar stygende insetkoste en ’n mielie-oes waarvan die gehalte laer was, het ’n ongunstige impak op sy wins gehad.

Dit lyk asof Suid-Afrikaanse papverbruikers ook soggens al hoe haastiger word. Die verkope van White Star-kitspap het sterk gegroei in die afgelope boekjaar. Die maatskappy meld dat sy verkope van graanvlokkies baie winsgewender lyk.

Wat sy pastaprodukte betref, is Pioneer Foods bekommerd oor die risiko wat die stygende hoeveelheid goedkoop ingevoerde pasta op die plaaslike mark skep.

Die afdeling vir langlewe-vrugtesap se verkoopsvolumes het met 7% gegroei en teken sterk bedryfswins aan.

Pioneer Foods se Wellingtons-handelsnaam, wat onder meer blatjang insluit, toon tekens van verbetering, hoewel dit steeds van ’n lae grondslag af geskied.

Uitvoervolumes na die res van Afrika het gedaal weens wisselkoerse wat bokspring en verbruikers op die res van die vasteland wat, soos in Suid-Afrika, onder groot druk is. Dis veral die uitvoer van droëvrugte wat nadelig geraak is hierdeur.

Daar word verwag dat marktoestande steeds moeilik sal wees, maar met klein verbeterings hier en daar. “Ons voorsien steeds swak aanvraag en ons sien ook nie dat die ekonomie oornag beter gaan presteer nie,” sê mnr. Tertius Carstens, uitvoerende hoof van Pioneer Foods.

Dit is waarskynlik die laaste stel jaarresultate wat Pioneer uitreik, aangesien die maatskappy se aandeelhouers ingestem het dat die maatskappy denoteer en vir nagenoeg R23 miljard aan PepsiCo verkoop word. Dit kom neer op ’n aanbod van R110 per Pioneer-aandeel.As die oorname die groen lig van die mededingingsowerhede kry, sal die transaksie teen Februarie 2020 voltooi wees.

Pioneer Foods se aandeelprys het Maandagmiddag rondom vlakke van R108,21 verhandel.