’n Kennisgewing dat die SAPV so ’n aansoek by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) ingedien het, is op 30 November in die Staatskoerant gepubliseer.

Die huidige tarief is onderskeidelik 37% vir stukke aan die been en 12% vir beenlose stukke.

Luidens die Staatskoerant sluit die SAPV se redes vir sy aansoek in dat die pluimveebedryf in die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) meer as 60% van die diereproteïen wat in die gebied verbruik word, verskaf.

Die bedryf verteenwoordig byna 20% van die Suid-Afrikaanse landbou se bruto binnelandse produk, is die tweede grootste verbruiker van mielies in die streek, en is by uitstek die grootste verbruiker van sojabone.

“Die Suid-Afrikaanse regering se sojaboonontwikkelingstrategie is afhanklik van die sukses van die plaaslike pluimveebedryf,” het die SAPV luidens die Staatskoerant gesê.

Meer as 100 000 werkgeleenthede

Die organisasie het voorts gesê die Sadu-braaihoenderbedryf skep 47 025 regstreekse werkgeleenthede en 58 383 onregstreekse werkgeleenthede.

In die bedrywe waar gewasse vir voer verbou word, is ’n verdere 17 700 werkgeleenthede betrokke.

Volgens die SAPV is Sadu-hoenderprodusente internasionaal doeltreffend, maar het voortdurend te kampe met probleme rakende winsgewendheid, wat in 2016 en 2017 tot werkverliese gelei het.

Die kwessies rondom winsgewendheid kan volgens die SAPV regstreeks verbind word met “die stygende volume van opportunistiese invoer van bevrore hoender wat die Sadu-bedryf beduidend ondergrawe”.

Die SAPV sê die hoeveelheid ingevoerde hoender wat aan invoertariewe onderhewig is, het van 2015 tot 2017 drasties gestyg en berokken die bedryf ernstige skade.

“Die laag geprysde invoer beperk die Sadu-bedryf se vermoë om pryse in ooreenstemming met stygende koste te verhoog, en het die verkoopsvolume en markaandeel verlaag.

“Die Sadu-bedryf het beperkte bergingsvermoë en uitvoergeleenthede.

“Dit beteken dat wanneer die opportunistiese invoer die Sadu-mark binnekom, die bedryf verplig is om sy pryse te verlaag om voorraad te verkoop en bergingsvermoë te skep.”

Mnr. Donald McKay, direkteur van XA Trade Advisors, sê in ’n blog die SAPV “is waarlik meedoënloos in sy soeke na beskerming”.

Die jongste aansoek volg kort nadat ’n beskermingsmaatreël op stukke aan die been uit die Europese Unie (EU) ingestel is, wat weens die vryehandelsooreenkoms tussen die EU en Suider-Afrrika nie aan invoertariewe onderhewig is nie.

McKay sê indien die jongste aansoek toegestaan word, dit hoenderpryse sal laat styg, iets wat die SAPV self in sy redes noem.

McKay voeg by die aansoek kom ná ’n jaar waarin pluimveemaatskappye “skouspelagtig” goeie resultate behaal het.


Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.