Luidens ’n berig van eNCA het dié geld soos mis voor die son verdwyn. Mnr. Khaye Nkwanyana, woordvoerder van die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, sê die droogtehulp is sowat vyf jaar gelede toegestaan. Die provinsiale regering is besig met ondersoeke en wag nog vir die finale verslag sodat die mense wat die geld verduister het, vervolg kan word.

Pienaar sê dié geld is slegs die ore van die seekoei van geld vir droogtehulp wat weens sogenoemde tenderpreneurs nooit boere en diegene wat dit die nodigste het, bereik nie.

“Ons het reeds tydens die droogte van die 2013-’14 in Noordwes probleme ervaar met droogtehulp wat wanbestee is. In die private sektor kon jy toe ’n sak voer vir sowat R80 per sak aankoop, maar weens die tenderproses is die voer vir die staat se droogtehulp teen meer as R200 per sak aangekoop.

“As die proses vir tenders en droogtehulp nie reg toegepas word nie, kan ’n derde tot die helfte van die staat se geld vir droogtehulp nie die hulpbehoewendes bereik nie.”

Hulp vir veeboere

Sedert einde verlede jaar verteenwoordig Pienaar Agri SA as deel van ’n groep organisasies wat landwyd pogings aanwend om hulp vir veral veeboere te reël. Die organisasies wat saamwerk, is Agri SA, die Save the Sheep-projek van Sutherland, Gift of the Givers en Caring Daisies.

Hy sê as gewerk word op ’n gemiddelde koste van sowat R32 000 per vrag voer wat vir droogtehulp aangery word (met vervoerkoste van R20 000 en voerkoste van R12 000 per vrag), sou die vermiste R220 miljoen 6 875 vragte voer kon betaal. Dít sou meer as 171 800 stuks grootvee vir 30 dae kon voer as mens op ’n gemiddelde verbruik van 15 kg voer per dier per dag werk.

As die geld gebruik sou word om slegs voer aan te koop en mens werk op sowat 15 kg voer per dier per dag, sou meer as 610 000 stuks grootvee vir 30 dae met dié bedrag gevoer kon word.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.