Astral spook al jare in die hof om die munisipaliteit te dwing om sy verantwoordelikheid vir die verskaffing van basiese elektrisiteit en water na te kom. Die tekorte lei tot groot ontwrigtig by Astral se Goldi-hoenderslagplaas en benadeel ook inwoners van die dorp en omliggende gebiede.

Die eerste regsoptrede kom al van vroeg 2018 af toe infrastruktuurverval ernstige onderbrekings in die voorsiening van dienste veroorsaak het. Weens die ontwrigting by Astral se slagplaas het die onderneming die hof gevra om in te gryp en ’n hofbevel is teen die munisipaliteit bekom om hom te verplig om ’n plan voor te lê oor hoe hy beoog om die infrastruktuur te herstel en te verbeter. Daar het niks van hierdie plan gekom nie.

Volgens Astral het dit tot die buitengewone regstappe teen die provinsiale en nasionale regerings gelei om hulle verantwoordbaar te hou vir die mislukte dienslewering in Standerton. Kragtens die hofbevel waaroor gister ooreengekom is, sal die nasionale regering ingryp en saam met die tesourie ’n finansiële herstelplan ingevolge die Wet op Finansiële Munisipale Bestuur (Wet 56 van 2003) opstel. Die bevel maak voorsiening daarvoor dat Astral die hof vir verdere verligting kan nader as die herstelplan nie in werking gestel word nie.

Mnr. Chris Schutte, uitvoerende hoof van Astral, sê hulle hoop dat verdere regstappe nie nodig sal wees nie en dat al die partye sal saamwerk om die probleme op te los tot voordeel van almal. “Ons bevestig ons volle steun aan die regering en tesourie en sien uit daarna om saam te werk om die ernstige probleme wat die Lekwa-munisipaliteit in die gesig staar, opgelos te kry sodat die ongunstige invloed daarvan op ons bedrywighede en op die gemeenskap wat in die omgewing leef en werk, verlig kan word.”

Reeds in 2019 was Astral verplig om self elke dag 3,5 megaliter water uit die Vaalrivierstelsel te pomp en te suiwer ná maande se probleme met munisipale watertoevoer by sy verwerkingsaanleg.

Die ellendige stand van die munisipaliteit se watersuiweringsaanleg en gepaardgaande ondervoorsiening en onderbrekings het Astral teen Junie daardie jaar vir die boekjaar reeds R85 miljoen aan verlore produksie en ontwrigtings in die voorsieningsketting gekos.