Indien dit deurgevoer word, sal die wetswysigings ingrypende perke op vuurwapenbesit en -gebruik plaas.

Die twee organisasies het die hooggeregshof in Pretoria genader vir meer tyd sodat die publiek genoeg tyd kan hê om inligting te bestudeer wat blykbaar gebruik is om die wysigingswet op te stel. Dié inligting is eers op 25 Junie aan die publiek bekend gestel, wat belanghebbendes slegs 45 dae gegee het om dit te bestudeer binne die konteks van die voorgestelde wysigings, én om skriftelike kommentaar daarop voor te berei en in te gee.

Mnr. Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SA Jagters), het die besluit van die hof verwelkom.

“Die voorgestelde wysigings is verreikend en raak talle afdelings van die wet,” sê Camphor in ’n verklaring. “Ons vernaamste bekommernis is dat die doelstelling van die wysigingswetsontwerp duidelik is om burgers se toegang tot vuurwapens te beperk, teenoor die huidige wet, wat gemik is daarop om burgers se grondwetlike reg tot lewe en liggaamlike integriteit te versterk. Dit is dus ’n 180 grade-ommeswaai van bemagtigende wetgewing na ontmagtigende wetgewing.” 

Perke

Van die ander wysigings wat SA Jagters as verontrustend beskou is:

  • Die verwydering van die reg op vuurwapenbesit vir selfverdediging.
  • ’n Perk op die aantal vuurwapens en ammunisie wat jagters en sportskuts mag besit.
  • Die uitbreiding en herdefiniëring van ballistiese ontledingspraktyke wat onhaalbaar en onprakties is.
  • ’n Verandering in bevoegdheidsvereistes vir vuurwapenbesit.
  • ’n Verbod op die herlaai van ammunisie deur vuurwapeneienaars vir hul eie gebruik.


Camphor het ook die twee organisasies gelukgewens met hul suksesvolle hofaansoek “wat tot voordeel is van elke Suid-Afrikaner wat glo in die reg om ’n vuurwapen te besit en ons grondwetlike reg tot lewe en liggaamlike integriteit steun”.

SA Jagters het die belangrikste voorgestelde wysigings op sy webwerf beskikbaar gemaak. Besoek www.sahunters.co.za/index.php/firearms-control-amendment-2021 vir nog inligting en om aan die proses van openbare kommentaar deel te neem.