Honda se twee SNV’e, die CR-V en HR-V, kry nou ‘n nuwe BR-V-model as kleinboet by. Die BR-V is gegrond op Honda se Mobilio-veeldoelvoertuig wat die meganika en enjin betref en dit deel ook dié model se praktiese sewesitplek-uitleg.

‘n Pluspunt vir die BR-V is die feit dat dit omtrent R100 000 minder kos is as die goedkoopste HR-V.

In die kryt gaan die BR-V moet stoei teen die Ford EcoSport, Renault Duster, Suzuki Ertiga en Toyota se Avanza. Hoewel laasgenoemde twee elk ook met sewe sitplekke spog, het hulle nie regtig daardie SNV-karakter nie.

Viersilinder-petrolenjin

Die vyf modelle deel almal dieselfde 1,5 l viersilinder petrolenjin (88 kW/145 Nm) met ‘n sesgang-handratkas of ‘n palwissel CVT-dryfstelsel. Dit is slegs met tweewiel-aandrywing bekikbaar. Daar is drie afwerkingvlakke van die meer beskeie Trend, Comfort tot die top-model wat (nie om dowe neute nie) Elegance heet. Die Elegance spog byvoorbveeld met leerbeklede sitplekke, ‘n beter klankstelsel en ‘n drukknop om die enjin aan of af te skakel.

Die BR-V se grondvryhoogte is 210 mm teenoor die 190 mm van die Mobilio. Dit is deels te danke aan die groter wielvellings en buitebande naamlik 195/16 teenoor die Mobilio se 185/15.

Veelsydigheid, eerder as weelde

Die bakwerkontwerp bou al te duidelik voort op die Honda-DNA en in die binneruim voer veelsydigheid die botoon, eerder as weelderigheid. Die agterste en middelste sitplekke kan ‘n verskillende kombinasies en posisies wegvou om die praktiese laairuimte te vergroot.

Volgens Honda is die petrolverbruik in die omgewing van 6,3 l/100 km en die pryse strek van R238 900 tot R288 300.