Dit het bekend geword toe die entiteit sy jongste prestasie- en korporatiewe plan aan die parlementêre portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgelê het.

Dungu se aanstelling in 2019 was in ’n wolk van omstredenheid gehul met bewerings dat die regte aanstellingsprosedures nie gevolg is nie.

Die Mail & Guardian het verlede jaar berig Dungu, wat vroeër ook in diens van OBP was, het in 2008 bedank terwyl hy ondersoek is vir die beweerde verkoop van intellektuele eiendom en bakteriestamme aan private maatskappye reg oor die wêreld.

Dungu het sy geboorteland, die Demokratiese Republiek van die Kongo, in 1991 verlaat om sy meestersgraad in veeartsenykunde aan Onderstepoort in Suid-Afrika te kom verwerf.

Bewerings van korrupsie

Kenosi het aangedui dat Dungu op Vrydag 30 April geskors is en dat dit handel oor bewerings oor ’n “werwings- of indiensnemingskontrak”.

Sy het gesê die skorsing is in ooreenstemming met die direksie se strategie en strategiese risiko’s rondom die verligtingstrategieë by OBP en die hantering van kwessies rondom bedrog en bewerings van korrupsie. Volgens haar is die direksie sedert sy aanstelling oorval met vorige ondersoekverslae en bewerings. “Ons het met ’n proses begin en die uitvoerende hoof voorkomend geskors.”

Sy het beklemtoon daar word beoog om die proses so vinnig moontlik af te handel.

Die voorkomende skorsing bied die direksie ook die geleentheid om die bewerings te toets en die voorstelle van die vorige ondersoeke te orweeg, terwyl hy met sy werk by OBP kan voortgaan.

Die direksie se strategie is tweeledig. Eerstens is hy daarop toegespits om die OBP se omgewing te stabiliseer, en tweedens om sy strategiese plan uit te voer wat hy voor die komitee en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, voorgelê het.