Dit was die boodskap van hoofregter Mogoeng Mogoeng op die jaarkongres van Graan SA by Nampopark buite Bothaville.

Mogoeng, wat ook ’n Brahmanboer is, het gesê hy kan hom indink hoe moeilik dit vir boere is wat te midde van erge droogte, moeilike produksietoestande en veiligheidsprobleme, verdere frustrasie ervaar omdat hulle as gronddiewe gebrandmerk word.

“Dit kan nie maklik wees as daar na jou as ’n dief verwys word nie. Gelukkig het ons boere wat besluit om steeds tot die ekonomie by te dra en voortgaan om te boer.”

Kern van probleem

Volgens Mogoeng lê die kern van die probleem rondom grondbesit en deelname aan die ekonomie eerstens by die erkenning van die onreg dat sommige Suid-Afrikaners gedurende apartheid van onder meer grondbesit en ekonomiese deelname uitgesluit was. “Ons kan nie ontken dat die geskiedkundige ongeregtighede bestaan nie. 

“Ek doen ’n beroep op julle, ongeag wat julle dink, om vasberade te wees om by die kern van die probleem uit te kom en dit aan te pak. Solank dit nie aandag kry nie, sal dit ’n speelbal bly in die hande van politici en opportuniste.”

Mogoeng het voorgestel dat die aanhef van die Grondwet altyd in gedagte gehou moet word wanneer daar na oplossings vir probleme in die land gesoek word. “Die aanhef begin deur te sê; We as the people of South Africa… Dit wys nie ras uit nie, dit verwys na ons almal saam.”

Hy het verder voorgestel dat Suid-Afrikaners mekaar in ag moet neem om mekaar beter te probeer verstaan: “Mense wat grond wil hê, moet hulself in boere se skoene plaas. Eweneens moet boere hulself in iemand wat graag grond wil besit, se posisie plaas. Net dan kan jy ’n betekenisvolle deelnemer aan hierdie proses wees.”

“Ons is familie” 

Mogoeng het afgevaardigdes daaraan herinner dat almal in die land lede van een familie is, en dat dit ’n bindende faktor tussen Suid-Afrikaners is waarsonder die land nie vorentoe kan beweeg nie.

Hy het vertel hy het onlangs tydens ’n reis na Nigerië mense op die lughawe Afrikaans hoor praat. “Ek kon myself nie keer nie. Ek moes myself uit die geselskap verskoon en die mense gaan groet. Dit het my soveel blydskap verskaf. Almal in Suid-Afrika verstaan dalk nie Afrikaans nie, maar ons is aan mekaar verbind as Suid-Afrikaners, en dit is die beginpunt.”

“Ons land het genesing nodig, van gebrokenheid, vooroordele, wantroue. Ons as ’n familie kan dit help aanspreek.”  

Mogoeng het Graan SA en boere aangemoedig om wyer te kommunikeer oor die goeie werk wat boere reeds doen om hul gemeenskappe te bemagtig en te ondersteun, asook om opkomende boere te help vestig.

As deel van ’n verduideliking oor hoe om bogenoemde te bewerkstellig, het Mogoeng van sy eie ervaring tydens sy aanstellingsproses as hoofregter vertel. 

Baie mense, nasionaal en internasionaal, het hom probeer diskrediteer. Hy het twee keuses gehad: om op die kritiek te konsentreer en homself te probeer verdedig, of om bloot voort te gaan met sy werk en ’n verskil in die land te probeer maak.

Die laaste opsie het vir hom die beste antwoord gebied. Deur sy hart te volg, werk dinge nou só uit dat hy al hoe meer geleenthede gebied word om sy boodskap oor te dra. 

Mogoeng reken dieselfde proses sal vir die landbougemeenskap geld. “Jy moet aanvaar daar gaan altyd groepe en individue wees wat jou kritiseer, maar moenie jou deur hulle laat rig nie.”