Die organisasie het ’n verklaring uitgereik wat die mosie, wat ná lang debatte en besprekings deur kommersiële en ontwikkelende boere aanvaar is, verduidelik.

Luidens die verklaring erken en ondersteun die organisasie die behoefte aan grondhervorming en transformasie in Suid-Afrika. Terselfdertyd erken Graan SA ook die noodsaaklikheid van ’n florerende en welvarende graansektor om voedselsekerheid tot voordeel van alle Suid-Afrikaners te onderhou en te verbeter.

Die mosie wat op Donderdag 8 Maart op die kongres goedgekeur is, herhaal dat dit moontlik is om albei hierdie mikpunte te bereik binne die grense van die Grondwet soos wat dit tans is en deur die organisasie eerbiedig word.

Onteiening ondermyn graanproduksie

Graan SA sê onteiening sonder vergoeding maak nie net die ontsluiting van die waarde van grond onmoontlik vir nuwe boere nie, maar ondermyn ook die grondslag waarop graanproduksie gefinansier word. “Private eiendomsreg word wêreldwyd erken en is vir baie goeie rede in die Grondwet vasgelê. Die versuim om dit te handhaaf, sal lei tot ’n katastrofiese ineenstorting van die Suid-Afrikaanse ekonomie,” lui die verklaring.

Die organisasie streef na en sal voortgaan om te pleit vir die oorhandiging van titelaktes aan begunstigdes van grondhervormingsplase aangesien die waarde van grond lê in die titel tot daardie grond. Sonder titelaktes is daar geen manier om die waarde van die grond te ontsluit nie.

’n Gebrek aan inligting oor die mosie wat in die Parlement goedgekeur is, skep onsekerheid. Volgens die organisasie is dit dus belangrik hy voortdurend betrokke raak en met die Regering onderhandel. “Graan SA sal steeds vennote van die Regering en die private sektor nader om grondhervorming só te verbeter en te bespoedig dat dit nie net grondhervorming bewerkstellig nie, maar ook volhoubaarheid en voedselsekerheid op lang termyn vir Suid-Afrika verseker.”

Eenheid en dialoog

Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê dit was ’n waterskeidingskongres en dat hy ná die kongres vol moed en hoop vir die toekoms van Suid-Afrika en die landbou is. Hy sê graanboere het bewys dat eenheid en dialoog as boustene gebruik kan word om konsensus te bereik, selfs wanneer ’n moeilike kwessie, soos grondonteiening sonder vergoeding, op die tafel is.

Die mosie is nie in sy oorspronklike weergawe deur alle lede van die organisasie ondersteun nie. “Ons kon harde penne ingeslaan het en gesê het dat geen toegewings gemaak sou word nie en dat ons daaroor moes stem.” Só ’n stap sou volgens De Villiers skeuring tussen lede van die organisasie veroorsaak het.

Talle lede het gevra dat die kwessie bespreek moes word sodat eenheid behou kon word. Tyd is spesiaal vir ’n bespreking aan die einde van die eerste dag van die kongres ingeruim, waartydens daar ná lang debatte besluit is om op Donderdag 8 Maart finaal oor die mosie te besluit. Die aangepaste mosie is eenparig aanvaar.

“Ek sien baie bemoedigende groen spriete vir die toekoms,” sê De Villiers. “Gematigde swart boere en gematigde wit boere kan saam ’n pad uittrap en dit is die manier vorentoe vir Suid-Afrika. Hierdie is saad wat geplant is om voedselsekerheid vir die land se toekoms te lewer.”

Die hoofpunte van die mosie soos dit finaal aanvaar is, is:

1.            Graan SA erken en ondersteun die noodsaaklikheid van grondhervorming en transformasie in Suid-Afrika.

2.            Graan SA erken ook die noodsaaklikheid van ’n voorspoedige en volhoubare graansektor om voedselsekerheid vir almal in Suid-Afrika te verseker.

3.            Graan SA sal voortgaan om hom vir die oordraging van titelaktes aan begunstigdes te beywer.

4.            Graan SA sal daadwerklik en dringend ’n indringende gesprek met die regerende party voer om konsensus oor alle aspekte van die saak te kry.

5.            Tot tyd en wyl die konsensus bereik word, word die huidige Grondwet gehandhaaf.