Die Wil-program, ? gesamentlike inisiatief van Future Farmers, die sektorale onderwys- en opleidingsowerheid vir die landbou (AgriSeta) en die KwaZulu-Natalse Landbou-unie (Kwanalu), plaas elke jaar 100 jong, werklose gegradueerdes op plase vir 12 maande se werkondervinding.

Die program is tans in sy vierde jaar. Wil 4 het in Augustus 2020 begin en loop nou ten einde. ? Nuwe kontrak is gereed vir Wil 5, wat in Augustus 2021 begin, en Wil 6, wat in Augustus 2022 begin.

Meer as 400 gegradueerdes het reeds die program voltooi.

Kwanalu se uitvoerende hoof, me. Sandy La Marque, het gesê die program maak ? tasbare verskil. “Dit neem werklose jongmense en bemagtig hulle vir toekomstige indiensneming en entrepreneuriese geleenthede. Meer as 75% van die jongmense wat deel was van Wil, word voltyds in diens geneem, baie van hulle in bestuursposisies.”

Die program konsentreer meestal op KwaZulu-Natal, waar Wil-gegradueerdes in kommoditeite en boerderye soos kaas, beesvleis, varkvleis, avokado’s, mielies, konyne, hidroponika, blomme, kwekerye, pluimvee, suiwel, inheemse kruie, makadamias en bosbou werk.

AgriSeta finansier hul besoldiging – wat hulle toelaat om te studeer terwyl hulle ? inkomste verdien – en hulle word deur boere in diens geneem met ? behoorlike werkskontrak.

“Baie landbougegradueerdes kry nie werk nie omdat hulle nie ondervinding of ? verwysingsbrief het nie. As hulle dit eers het, word hulle indiensneembaar. Danksy AgriSeta, kan ons die gaping tussen teoretiese opleiding en nuttige werkers in ? boerdery oorsteek. Ons het reeds honderde jongmense se loopbane aan die gang gekry. Party word ook vir Future Farmers se oorsese internskappe gekies,” het die stigter van Future Farmers, Judy Stuart, gesê. 

AgriSeta se uitvoerende hoof, dr. Innocent Sirovha, het gesê AgriSeta se mandaat is om die landbousektor op te hef en die invloed van befondsing op opleidingsprogramme vir die jeug te bepaal. “Die Wil-program gaan nie net oor werkgeleenthede nie, maar ook daaroor dat hierdie jongmense voortgaan en geleenthede skep en tot volhoubare groei in die sektor bydra.” 

La Marque het boere geprys wat gasheer vir hierdie gegradueerdes speel en die program ondersteun.