Pres. Cyril Ramaphosa het ná die ANC se tweedaagse lekgotla in Pretoria aangekondig dat ’n stimuluspakket opgestel sal word om bedrywe teen storting te beskerm.

Die beoogde stimuluspakket gaan konsentreer op werkskepping en die instel van beskermingsmaatreëls om plaaslike bedrywe soos die suiker- en die hoenderbedryf, wat erg deur goedkoop invoer geraak word, te ondersteun.

FairPlay, ’n internasionale inisiatief wat hom bearbei vir die beëindiging van storting, het die aankondiging van Ramaphosa verwelkom en gesê dit is van groot belang dat die Regering vinnig optree om verdere werksverliese te voorkom.

Mnr. Francois Baird, stigter van FairPlay, het gesê die suiker- en hoenderbedryf benodig dringend tariefondersteuning, want storting het uitermatig toegeneem.

Die Regering het sy selfopgestelde spertyd gemis om die kwessie rondom die suikertarief teen einde Julie op te los, soos wat die Departement van Handel en Nywerheid belowe het.