Ongelukkig heers rampdroogte steeds in die westelike produksiestreke. Vooruitsigte vir die spoedige herstel van veldweiding daar lyk tot ten minste die midsomer nie rooskleurig nie.

“Die sentrale tot oostelike helfte van die land het reeds goeie reën begin kry. As die heersende El Niño-stelsel verswak en tot ’n neutrale toestand of ’n La Niña-stelsel oorgaan, kan natter toestande ook weswaarts begin uitbrei,” sê Van den Berg.

Hy verduidelik dat die land wat klimaat betref, in twee duidelike gebiede verdeel kan word met byna geen middelgrond nie. “As daar ’n lyn getrek word van net wes van Vryburg in die noordweste tot omtrent Oos-Londen in die suidoostelike dele van die land, is dít die skeiding tussen rampdroogtetoestande na die weste en bogemiddelde weidingtoestande na die ooste.”

Van den Berg sê rampdroogte heers steeds in bykans die hele Noord-Kaap, met die uitsondering van ’n paar distrikte wat aan die Vrystaat en Noordwes grens, soos dele van Vryburg, Kimberley, Douglas en Hopetown. Die grootste deel van die suidwestelike helfte van die Oos-Kaap is ook baie droog. Dele van die Wes-Kaap het wel in die eerste week of twee van Mei reën gekry, maar dit is nou al baie laat vir weiding om te herstel.

Weiding

“Met die somerreën wat verby is, en die winter wat op hande is, gaan die rampdroogtegebiede nie in die komende maande verbeter nie, maar tot ten minste die middel van die somer verswak. In dele van veral die Noord-Kaap is daar reeds ’n paar jaar geen of baie min weiding nie, soos in dele van die Boesmanland.”

Wat die heersende stand van sake vererger het, is die uitdrogingsiklus wat in 2012 begin het. Dít het met aanhoudende ondergemiddelde reënneerslae gepaardgegaan, wat ’n kumulatiewe uitwerking gehad het sodat weiding oor hierdie tyd al hoe verder agteruitgegaan het. Dít maak die droogte net soveel meer intens in hierdie streke, sodat een goeie reënbui dit nie kan breek nie.

In die gebied oos van die lyn vanaf Vryburg tot Oos-Londen is die droogte wel redelik gebreek. Dit was danksy reën wat eers in die tweede deel van die groeiseisoen geval het, maar die eerste keer in baie jare is doeltreffende neerslae van meer as 50 mm aangeteken. In baie dele het tot 200 mm of meer oor ’n kort tydperk in Maart, April en Mei geval.

Hierdie is ook die eerste reën sedert 2011 wat grondwater op dieper grondlae en boorgatwater gaan aanvul, sê Van den Berg.

Help innoverend

Hy benadruk dat geskiedkundige statistieke wys dat droogtesiklusse van langer as vier jaar nie uniek is nie. “In ’n ontleding van data sedert 1915 vir ’n plek soos Pofadder was omtrent 40% van alle jare deel van ’n droogte wat langer as vier seisoene (telkens van 1 Julie tot 30 Junie gemeet) geduur het.

“In sowat 30% van alle seisoene is ’n droogtesiklus van langer as ses agtereenvolgende jare aangeteken, en in omtrent 65% van alle seisoene was die reënval ondergemiddeld.”

Die groot knoop is egter dat hierdie veeboere staatshulp vir oorbruggingsfinansiering behoort te kry, meen Van den Berg, want geen boer kan sonder hulp deur die lang droogtesiklusse kom nie.

In sulke gevalle moet nie net die hoeveelheid reën per jaar in ag geneem word nie, maar ook die lengte van droogtye, en ander probleme wat tot “finansiële” droogte vir die boere bydra, soos die belastingstruktuur: “Die heersende belastingstruktuur moet dringend ondersoek word, sodat boere in staat gestel word om winste in goeie jare na swakker jare oor te dra.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.