Mnr. Izaak Breitenbach, hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) se braaihoenderorganisasie, sê in ’n verklaring dit is nou ’n jaar sedert die pluimveemeesterplan onderteken is en “dit is bevredigend dat sekere deurslaggewende stappe ondanks die Covid-19-pandemie gedoen is om groter uitvoer van Suid-Afrikaanse hoendervleis moontlik te maak”.

Plaaslike hoendervleis kan volgens hom na die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) uitgevoer word en hopelik ook binnekort na Saoedi-Arabië en ander lande.

Breitenbach sê mnr. Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, en me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, verdien krediet vir hul bydrae tot die vordering. 

Kompartemente

Die departement van landbou het ’n nuwe uitvoersertifikaat onderhandel wat die VAE vir Suid-Afrika se pluimveeprodukte open. “Die uitvoersertifikaat harmoniseer nie net die vereiste siektevoorkomingsmaatreëls nie, maar ook die praktyk van kompartementalisering, en die moniteringsprosesse waarmee getoets word vir die residu van medikasie wat gebruik word om siektes te behandel of voorkom.

“Kompartementalisering is ’n praktyk wat die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE) begin het om beperkings op internasionale handel te verlig wat ingestel word wanneer ’n siekte soos voëlgriep in ’n land voorkom.

“Dit maak daarvoor voorsiening dat ’n streek in verskillende ‘kompartemente’ verdeel kan word, sodat spesifieke plase of geriewe wat siektevry verklaar is, met handel kan voortgaan, ondanks ’n uitbreking elders in die land,” sê Breitenbach.

“Ons is baie opgewonde om te bevestig dat die eerste produsent reeds produkte na die VAE uitvoer en ons verwag dat onderhandelinge oor marktoegang binnekort met Saoedi-Arabië gevoer sal word.”

Stappe word ook rakende uitvoer na buurlande in die Suid-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) gedoen. Suid-Afrika het uitvoersertifikate om na Namibië, Botswana en Swaziland uit te voer, maar toegang is weens dié lande se kwotabeleidsrigtings beperk.

“Die Sadu-reëlings sal na verwagting in die nabye toekoms volgens die meesterplan uitgestryk word om meer uitvoer moontlik te maak.”

EU-mark

Breitenbach sê hoewel uitvoer na die Europese Unie (EU) hoog op die uitvoerbeplanningsagenda is, is dit weens EU-invoerprotokolle ’n groot probleem.

Die gapings is reeds ontleed om te bepaal watter nakomingstelsels vir EU-uitvoer nodig is. “Kompartementalisering sal ’n belangrike deel van ’n EU-uitvoerooreenkoms wees en die departement gee reeds in onderhandelinge daaraan aandag.”

Mnr. Paul Matthew, uitvoerende hoof van die assosiasie van vleisinvoerders en -uitvoerders (Amie), is nie so opgewonde oor die vordering wat tot dusver behaal is nie. Hy sê Suid-Afrika voer reeds na jare na die VAE en buurlande uit.

Dit sal volgens hom goeie nuus wees as Suid-Afrika na Saoedi-Arabië kan uitvoer, maar die grootste geleenthede lê in die EU-mark. Plaaslike produsente moet egter vir toegang tot die EU-mark aan verskeie sanitêre en fitosanitêre kwessies aandag gee. Die grootste kwessie is residu-monitering.

Hoewel EU-hoenderprodusente klaarblyklik hul regerings vra om hulle teen invoer te beskerm, is Matthew optimisties dat Suid-Afrikaanse hoenderborsvleis welkom sal wees daar, omdat EU-produsente nie genoeg daarvan kan produseer nie.

Volgens hom sal die EU-mark groeigeleenthede vir Suid-Afrikaanse produsente bied en is vinniger vordering hiermee nodig.

Matthew sê die EU sal ’n wederkerig voordelige verhouding vereis. Hoewel Suider-Afrika en die EU ’n ekonomiese vennootskapsooreenkoms gesluit het en dit tariefvrye handel insluit, het Suid-Afrika vroeër ’n beveiligingsmaatreël op sekere hoendersnitte uit Europa ingestel.