’n Bewoë mnr. Henk Agenbach, uitvoerende hoof van Die Koöperasie in Humansdorp, het onder applous op Landbouweekblad en Agri SA se grondberaad in Bela-Bela gesê in die meeste dele van Suid-Afrika “waai die wind in die regte rigting”.

Hy het ’n beroep op mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, gedoen om ’n proses soortgelyk aan die sittings oor onteiening sonder vergoeding te hou.

Die potensiaal onder mense is baie groot en moet verwesenlik word, het Agenbach gesê. Deur sulke sittings kan mense betrek word en kan daar planne gemaak word.

“Ons sal die planne laat werk.”

Die Koöperasie het ’n gemeenskapstrust waartoe boere en verskaffers kan bydra.

Die onderneming spits hom spesifiek op sy breër gemeenskap toe omdat hy reeds deur onder meer salarisse en bonusse na sy werkers kyk.

Die trust het aandele in sommige van Die Koöperasie se boerderybedrywighede. Agenbach het gesê met regeringsteun sal die onderneming bates aan die trust kan verkoop en dit op lang termyn huur om ’n inkomste vir die trust te skep.

“Ons het ’n bategegronde benadering. Ons gaan na gemeenskappe en vind uit watter bates hulle het wat ons kan gebruik.

“Soms is dit mense self. ’n Passievolle mens wat ’n verskil wil maak, is jou grootste bate.”

Die trust spits hom onder meer toe op onderwys, gesondheid en werkskepping, en het 75 ontwikkelingsprojekte wat 66 000 mense se lewens raak.

Die Koöperasie pak bemagtiging op drie maniere: Gesamentlike ondernemings met kommersiële boere, finansiering en deur self by boerderye betrokke te wees.

Van die elemente wat ’n ontwikkelingsprojek volgens Agenbach suksesvol maak, is dat daar geluister moet word na die mense met wie gewerk word, goeie finansiële administrasie deur byvoorbeeld ’n onafhanklike ouditfirma te betrek, en opleiding.

Wat egter veral belangrik is, is om verwagtinge te bestuur, iets wat politici volgens hom ook behoort te doen.

 “Belowe minder en lewer meer, dan is mense gelukkig.”