De Lille, mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale sake en energie, en mnr. Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het insette gelewer rakende die wysiging van die voorgestelde wysigingswetsontwerp op die Grondwet wat ten doel het om onteiening met nulvergoeding vir die doeleindes van grondhervorming eksplisiet in die wet te skryf.

De Lille het verduidelik dat die howe die finale besluitnemer sal wees, want artikel 34 van die Grondwet dui aan “elkeen het die reg dat ’n geskil wat deur die toepassing van die reg besleg kan word, in ’n billike, openbare verhoor voor ’n hof beslis word of, waar dit gepas is, voor ’n ander onafhanklike en onpartydige tribunaal of forum”.

Sy het gesê die wysigingswetsontwerp op onteiening (B23 van 2020) bring sekerheid vir landsburgers en beleggers, want dit dui aan hoe onteiening gedoen kan word en op watter grondslag.

Sy het ook ’n voorbeeld voorgehou oor probleme wat met die huidige Wet op Onteiening (Wet 63 van 1975) ondervind word. In 2015 het Eskom aansoek gedoen vir die onteiening van ’n serwituut om elektriese kabels oor ’n plaas te lê om krag aan ’n nabygeleë informele woonbuurt te verskaf. Dit het ses jaar gekos om die kwessie af te handel. Die hof moes die onteiening afdwing. 

Eskom het in April 2015 aansoek gedoen vir die onteiening en die minister het dit in September 2016 goedgekeur. Die eienaar het in Maart 2017 ’n hersieningsaansoek ingedien en in September 2018 is die hersieningsaansoek van die hand gewys. Die hooggeregshof het in die guns van die departement beslis. Die appèlhof het in Maart 2020 die eienaar se appèl van die hand gewys. 

Die eienaar wou R3,7 miljoen vir die grond hê, maar die howe het beslis dat R1,29 miljoen geskikte en redelike vergoeding vir die grond sal wees.

Reg tot eiendom nie absoluut

Die voorgestelde agttiende wysigingswetsontwerp op die Grondwet bring die nodige regsekerheid deurdat dit die bestaande onreëlmatige verhouding tussen die absolute beskerming van bestaande eiendomsregte en die staat se plig om die ongeregtigheid van die verlede te herstel deur grond- en verwante hervormings uitklaar, het Mantashe gesê.

Hy het uitgewys dat die artikel 25 in sy huidige vorm reeds die verordening en toepassing van herstellende wetgewing toelaat, sonder dat daar pligte van vergoeding is. Hy het verder uitgewys dat die Ontwikkelingswet op Minerale en Petroleum-hulpbronne (Wet 28 van 2002) ’n voorbeeld van herstellende wetgewing is. 

“Deur sy verordening is grond- en verwante hervormings bereik deurdat die nasie se minerale hulpbronne onder die staat se voogskap oorgedra is sonder die verpligting om vergoeding te betaal. Die wettigheid van hierdie regime is bevestig deur die Grondwethof wat in die Agri SA-saak gewaarsku het teen die oorbeklemtoning van private eiendomsregte ten koste van die staat se maatskaplike verantwoordelikheid.”

Waar Artikel 25 in sy huidige vorm reeds implisiet die omstandighede bied waar nulvergoeding billik en regverdig is, bied die wysigingswetgewing nou eksplisiet dat die reg tot eiendom nie absoluut is nie en dat daar waar grond vir grondhervorming onteien word, die vergoeding betaalbaar nul rand mag wees.

Lamola het aan die komitee gesê dat hy op ’n latere stadium insette sal lewer. Die rede hiervoor is omdat hy nog besig is om met die kabinet oor die wysigingswetgewing te konsulteer. Dit is reeds bekend dat sy departement wetgewing die lig laat sien het om ’n grondhof te skep. 

Die grondhof, wat kwessies oor uitstaande restitusie-eise en ook van plaaswerkers en -bewoners gaan aanhoor, sal ook ingespan word om kwessies rakende onteiening sonder vergoeding aan te hoor.