Hartzenberg, wat sy doktorsgraad onder die legendariese prof. Jan Bonsma verwerf het oor faktore wat vroeë groei by vleisbeeste beïnvloed, se groot liefde was Bonsmarabeeste. Hy het die Bonsmarastoetery Denand vier dekades gelede op die been gebring en die stoetery het reeds verskeie toekennings gewen.

Hy en sy twee seuns, Ferdinand en De Wet, het saam geboer op die familieplaas Kleinuitschot naby Sannieshof waar sy pa en oupa ook geboer het. Dit is hoofsaaklik ’n saaiplaas van meer as 1 500 ha en sy seun Ferdinand sê daar word geboer met mielies onder spilpunte, droëlandmielies, sojas, sonneblomme, katoen op droëland, sowel as die Bonsmaras en ’n Ille de France-skaapboerdery.

“Om nie op die seuns se tone te trap nie” het Hartenzenberg later op ’n gedeelte van die plaas Houthaalbomen van 1 032 ha net buite Lichtenburg met ’n afsonderlike Bonsmarakudde geboer.

Daarby het hy en sy seuns hul boerderybedrywighede na Geogië uitgebrei. Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA, wat in 2010 met die vestiging van Suid-Afrikaanse boere in die ou kommunistiese land betrokke geraak het, sê die Hartzenbergs het presies gedoen wat TLU SA destyds aanbeveel het. “Ons het gesê boere moet hul boerdery in Suid-Afrika behou, maar hulle in Georgië verskans omdat die land vir ons die geleentheid bied.”

Hy sê die Hartzenbergs het ’n pragtige boerdery in Georgië. “Dit is ’n mielieboerdery onder spilpuntbesproeiing met hul eie silo’s. De Wet en Ferdinand is steeds betrokke.”

Van Zyl se pa was een van die 17 LV’s wat in 1982 saam met Hartzenberg van die Nasionale Party weggebreek het om die Konserwatiewe Party onder leiding van dr. AndriesTreurnicht te stig. “Ons het ook baie in landbouverband kontak gehad. Hy was ’n mens met integriteit en selfs sy politieke vyande het vir hom respek gehad. Sy soort was yl gesaai in die politiek.”

Dr. Pieter Mulder, voormalige VF Plus-leier, sê Hartzenberg was ’n baie nederige mens en plat op die aarde. “Hy en Treurnicht was ’n baie goeie kombinasie. Treurnicht as leier was die breë filosofiese spreker en denker, terwyl Ferdi die praktiese man was wat gesorg het dat die geldsake klop en dat die takke goed georganiseerd was. Dit was my ervaring toe ek in die politiek begin het. In die ou NP-dae het Lichtenburg altyd die beker gewen vir die bes georganiseerde kiesafdeling en hy was al die jare daar.”

Ná Treurnicht se dood in 1993 het Hartzenberg die leier van die KP geword. Mulder sê hul paaie het in 1994 geskei toe hulle die Vryheidsfront begin het onder leiding van genl. Constand Viljoen. “Ons het nie verskil oor ons eindpunte nie, maar oor ons strategie. Die KP wou nie by die politieke prosesse betrokke raak nie en ons het geglo ons moet van binne af ’n rol speel.” In 2003 het die partye weer bymekaar gekom onder die vaandel van die Vryheidsfront Plus.