Hulde en medelye stroom steeds in ná die nuus dat sy die afgelope naweek oorlede is.

“Ons gaan haar baie mis; haar kennis, insig en passie vir landbou was ongeëwenaard. Sy het nooit onvoorbereid na ’n onderhoud toe gekom nie,” sê mnr. Eddie Prinsloo, bekende Vrystaatse boer en eienaar van die Heuningkrans-Merinostoetery op Smithfield.

Eddie onthou Marleen as ’n buitengewone landboujoernalis wat berigte van hoogstaande gehalte gelewer het en as ’n liefdevolle ma vir haar dogter, Mia (18), ’n matriekleerling aan die Hoër Meisieskool Oranje, en seun, Alwyn(13), in gr. 7 aan die Laerskool Universitas in Bloemfontein.

Soos vele ander vriende en kollegas het Eddie die nuus van Marleen se dood as ’n groot skok beleef. Familie het haar Sondag dood in haar meenthuis aangetref, ná sy vermoedelik geval het.

“Dit het nog nie behoorlik ingesink nie, sy sou nog binnekort ’n boeredag vir opkomende boere hier by my kom bywoon het. Sy het graag haar kinders saamgebring na geleenthede waar hulle blootstelling aan swart boere kon kry. Sy het geen onderskeid getref tussen swart en wit Suid-Afrikaners nie.”

Charles Smith, haar eksman en Volksblad en Netwerk24 se nuushoof in Bloemfontein, sê haar dood was vir hom en hul kinders ’n geweldige skok. “Mia en Alwyn het ’n baie liefdevolle ma en sielsgenoot verloor in ’n stadium dat hulle haar baie nodig gehad het.”

Hy het haar as ’n innemende mens met ’n passie vir die lewe en joernalistiek beskryf.

“Marleen was op hoogte van wat orals in die wêreld rondom bewaringsboerdery gebeur.”

Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, waar Marleen van Januarie 2009 tot Januarie 2018 heeltyds en sedertdien as vryskutskrywer gewerk het, sê sy was ’n besonderse joernalis wat belangrike werk gedoen het om herlewingslandbou en grondgesondheid te bevorder.

“Sy was toegewyd, ’n bate vir die landbou en ’n goeie vriend. Ek is platgeslaan, dit voel onwerklik en ek kan my nie die landboujoernalistiek sonder haar indink nie.”

Marleen was passievol oor die bewaring van die omgewing en het ook haar meestersgraad in volhoubare landbou met lof aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf.

Haar studieleier, dr. Kobus Laubscher, sê dit was ’n vir hom ’n voorreg. “Sy was krities, op die punt af, gedissiplineerd, ingelig, altyd geluister, betrokke, sag, jy kon na haar luister en sy het jou altyd goed laat voel. Sy kon die goue draad identifiseer en ’n saak uitkam tot waar dit saak maak. As sy van jou verskil het, het jy nooit gedink sy sien haar as beter nie – al was sy reg. Ons sal haar stil teenwoordigheid mis.”

Johan Norval, haar jare lange kollega by Landbouweekblad in Bloemfontein, sê: “Die Marleen wat ek as ’n nooi Jordaan in my verslaggewingsdae by die SAUK op ’n rit deur Zimbabwe en Zambië leer ken het, is dieselfde een wat tot die einde geen kwaadwilligheid in haar mondering gehad het nie.

“Haar meelewing met ander mense was dalk haar swak punt, want sy het haarself eerder benadeel in ’n poging om haar medemens te help. Sy kon daarin slaag om ongekunsteld en ongestoord met alle mense te meng.”

“Toe sy haar gesin Washington toe volg, kon ek haar stoel by Landbouweekblad in Bloemfontein probeer vol sit – ’n taak wat nie maklik was nie. Met haar terugkeer uit Amerika, het sy letterlik haar ou plek in die Bloemfonteinse kantoor ingeneem – by dieselfde lessenaar en rekenaar.”  

Loopbaan

Sy het haar loopbaan in 1994 as joernalis by Volksblad begin nadat sy ’n BA-graad in politieke wetenskap aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom behaal het.

’n Oudkollega wat destyds saam met haar by Volksblad gewerk het, Thinus Ferreira, het gesê al was daar in die nuuskantoor nooit tyd nie, het sy altyd tyd gemaak om ander te help en te leer. “Jy het altyd gelag, altyd vertel en altyd gedeel.”

Marleen se afsterwe word ook deur die Landbouskrywersvereniging betreur, waarvan sy lid was. “Marleen was ’n uitstekende tegniese skrywer wat haar veral op gewasproduksie, herlewingslandbou en grondgesondheid toegespits het. Jy was geliefd, jy sal gemis word, rus in vrede.”

Marleen het ook voorheen vir Farmer’s Weekly asook die nuusagentskap Sapa gewerk, waar baie van haar berigte in Mail & Guardian verskyn het.

Buiten haar ouers, Jorrie en Santjie Jordaan van Kroonstad, laat sy ook twee broers, Johann van Pretoria en Strauss van Kimberley, agter.

Haar roudiens is Vrydag 10:00 in die NG kerk Berg-en-Dal in Bloemfontein. Haar oom, ds. Michiel Strauss, sal die diens lei.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.