Die Nywerheidsontwikkelingkorporasie (NOK) en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het die gesamentlike fonds bekend gestel as ’n hupstoot vir swart boere om toegang tot die kommersiële landbou te kry. Die landbounywerheidsfonds is ’n inisiatief van die departement as deel van sy program vir gemengde finansiering, maar geskied in vennootskap met die NOK. Een van die hoofdoelwitte is die ontwikkeling van grootskaalse, kommersiële landbouprojekte onder swart eienaarskap.

Mnr. TP Nchocho, uitvoerende hoof van die NOK, sê die fonds wys die regering se vertroue in die NOK se vermoë om ’n beduidende rol te speel in Suid-Afrika se ekonomiese herstel. “Die breër landbousektor speel ’n sentrale rol in die herstel van die plaaslike ekonomie, maar selfs belangriker is dat die doelwitte van die fonds in ooreenstemming is met die NOK se rol om meer kommersiële, swart boere te help vestig.

“Die sleutelelement van die fonds is om struikelblokke tot toegang uit die weg te ruim en daardeur ’n beduidende hoeveelheid swart boere te lok wat hul boerderybedrywighede tot ’n kommersële vlak wil ophef.” Die fonds sal gebruik word saam met ander fondsprodukte wat die NOK beskikbaar het om sakeondernemings te ondersteun.

Ncocho sê die groot trekpleister van die fonds is dat dit ’n toekenning van geld behels aan begunstigdes wat daarvoor in aanmerking kom, en nie net ’n subsidie is met risiko-implikasies nie.

Die NOK beskou dit ook as belangrik dat die doelwitte van die fonds strook met die strategie en nywerheidsontwikkelingsdoelwitte om die produksie van hoëwaardetuinbouprodukte en ander landboukommoditeite uit te brei wat kan lei tot invoervervanging, groter uitvoermoontlikhede, asook werkskepping en hervorming.

Die department sê die fonds is daar om die ontwikkeling en uitbreiding van die landbousektor te steun deur veral swart produsente en beleggers wat in aanmerking kom, te help met die ontwikkeling, uitbreiding, verkryging of samevoeging van projekte in die landbouwaardekettings wat voorkeur geniet.

“Die NOK het begrip vir die geldelike beperkinge waarmee swart boere sit,” sê mnr. Mooketsa Ramasodi, waarnemende direkteur-generaal van die department. “Daarom glo ons die vennootskap sal help om struikelblokke in die pad van hierdie boere uit die weg te ruim en hulle sal help om volwaardige kommersiële boere te word.”