Hy het tydens ’n aanlyn nuuskonferensie van die Instituut vir Rasseverhoudinge gereageer op die departement van toerisme wat volgens telkaarte vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) wil bepaal watter ondernemings geldelik gehelp moet word, en die R1,2 miljard geldhulp in die landbou wat net op klein- en bestaansboere gemik is. “Mens kan eenvoudig nie in hierdie tye van nood jou eie ideologiese en politieke standpunte op die land probeer afdwing nie. Ras moet veral geen rol ten tye van ’n krisis speel nie.”

Hy het gesê hy het aanvanklik SEB gesteun, maar is ontnugter omdat hy telkens dieselfde swart miljoenêrs in die direksies van besighede sien. “Dit is nie ’n manier om gewone mense te bemagtig nie. Werklike bemagtiging moet begin met primêre onderrig, wat op baie plekke in ’n haglike toestand is.”

Roodt wat oor die gevolge van die inperking op die ekonomie en werksgeleenthede gepraat het, het gesê dit is tyd dat die debat moet begin of die inperking beeïndig moet word. Hy raam dat sowat ’n miljoen mense reeds hul werk sal verloor en duisende besighede onder sal gaan. “Ek sien die Reserwebank praat van sowat 1 600 besighede, maar ek stem nie saam nie. As ’n miljoen mense hul werk verloor en jy praat van vyf tot tien werknemers vir ’n gemiddelde, klein besigheid gaan baie duisende besighede nie die paal haal nie.”

Hy het gesê die inperking was die regte besluit op die regte tyd, maar met die meer kennis wat nou beskikbaar is, is dit dalk nodig om die benadering te verander deur net ouer en kwesbaarder mense af te sonder. “Ons moet die ekonomie sou gou moontlik weer aan die gang kry, want armoede is ook ’n doodsvonnis vir baie mense. Om die waarheid te sê, die meeste mense in die wêreld gaan weens armoede dood.” 

Hy het daarop gewys dat die gemiddelde Europeër se inkomste drie keer meer as dié van ’n Suid-Afrikaner is en dat sy lewensverwagting 20 jaar langer is.

Inkrimping

Roodt glo die ekonomie gaan vanjaar met 6% inkrimp en dat dit jare gaan duur vir die ekonomie om te herstel. “Die staatskas was reeds in ’n totale, onvolhoubare gemors weens wanbestuur van die verlede en dom besluite. Dink net vir ’n oomblik ons het die R16 miljard wat die laaste reddingsboei aan SAA was, nou beskikbaar gehad vir die verligting van armoede.”

Hy het gesê voor die Covid-19-krisis is geraam dat die tekort aan ingevorderde belasting R80 miljard sou wees. Met die krisis en die inkrimping in die ekonomie voorsien hy nou ’n tekort van R200 miljard tot R300 miljard. Hy glo die staat se skuldvlak sal hierdie jaar tot meer as 70% van die BBP styg.

“Die regering moet hierdie krisis gebruik om sy fiskale rekening te herstruktureer. Staatsbesteding moet eenvoudig ingekort word. Raak nou eens en vir altyd ontslae van SAA en herstruktueer die staatsdiens met sy groot salarisrekening. Almal ly onder die omstandighede en dit sal net regverdig wees as staatsamptenare ook iets moet prysgee.”

Roodt het sy kommer uitgespreek oor die wye magte wat burokrate soos minister Bheki Cele nou geniet. “Ek kan nie sien hoekom ons van drank en sigarette ontneem moet word nie. Ons sal moet seker maak dat ons ons regte terugeis as die krisis verby is.”