Die Indiese regering beoog om minimum pryse op sekere belangrike landbouprodukte, asook gesubsidieerde opberging en vervoer af te skaf en meer ruimte vir deelname deur die private sektor te skep.

“Boere is bang hulle verloor hul inkomste en grond in so ’n onbelemmerde vrye mark,” het dr. Boaventura Monjane, ’n na-doktorale genoot by die instituut vir armoede-, landbou- en landelike studies (Plaas), tydens ’n webinaar gesê.

Volgens hom kan dít verreikende gevolge inhou, aangesien sowat die helfte van die mense in Indië vir hul bestaan van die landbou afhanklik is.

Dr. Siddharth K. Joshi, ’n onafhanklike landbounavorser en -aktivis in die Indiese stad Bengaluru (Bangalore), het op die webinaar gesê dis belangrik om die struktuur van die landbou in Indië en die oorsprong van die markreëlings wat getransformeer gaan word, te verstaan.

Die landbou dra van 17% tot 20% tot Indië se bruto binnelandse produk by en bykans die helfte van die Indiese bevolking maak ’n lewe uit die landbou.

Joshi sê 85% van die boere se grond is kleiner as 2 ha, maar die totale oppervlakte wat hul grond beslaan, is net die helfte van alle landbougrond. “Dit gee jou ’n idee van hoe ongelyk landbougrondbesit in Indi? is.” 

Groen revolusie

Hy sê die meeste van die instellings en strukture wat nou getransformeer gaan word, is tydens die groen revolusie in landbou in die 1960’s ingestel. Die hoogs produktiewe saad, besproeiing, kunsmis en plaagdoders van die groen revolusie was daarop gemik is om boere te ondersteun om voedselsekerheid in Indië te verbeter.

Aangesien die versterking van voedselsekerheid belangrik was, het die Indiese regering minimum ondersteuningspryse vir meer as 20 gewasse ingestel. Die koste om dié gewasse te produseer, word elke jaar bereken en dien as basis vir die minimum ondersteuningsprys wat boere veronderstel is om te kry as hulle hul produkte verkoop.

Volgens Joshi ontvang boere die minimum pryse net in die geval van koring en rys. Die regering koop koring en rys om dit teen lae pryse in rantsoenwinkels aan behoeftige mense te verkoop.

Nog iets wat gedurende die groen revolusie gevestig is, is sogenoemde mandis (verkoopsterreine), waarheen boere hul produkte bring om te verkoop. Die mandis word deur gereguleerde bemarkingskomitees vir landbouprodukte bestuur.

Die mandis werk soos effektebeurse, met agente (arthias) wat boere se produkte vir ’n kommissie gradeer en verkoop, dog die agente het mettertyd kartelle gevorm.

Die stelsels is nie vir boere in alle provinsies beskikbaar nie, maar is die algemeenste vir rys en koring in Punjab en Haryana. Boere van dié provinsies is aan die voorpunt van die betogings.

Boere op hul eie

Een van die nuwe wette beoog om die mandis te dereguleer. Die tweede wet maak kontrakboerdery moontlik, en hou die gevaar in dat klein en marginale boere wat nie hul deel van die kontrak kan nakom nie, hul grond sal moet verkoop. Die derde wet hef die verbod op die opgaring van produkte op. Dit kan veroorsaak dat kopers produkte opgaar en pryse daardeur manipuleer ten koste van boere.