Dit is die bevinding van navorsing deur dr. David Le Maitre van die WNNR, dr. James Blignaut van Universiteit Stellenbosch en prof. Lynette Louw, prof. Tally Palmer en mnr. Ian Preston van die Rhodes-universiteit. Die verslag oor hul navorsing is onlangs in Water SA gepubliseer.

Die doel van die studie was om vas te stel wat met die watervoorraad in die Bergriverdam-opvangsgebied in die Wes-Kaap en die De Hoopdam-opvangsgebied sal gebeur as indringerplante en -bome in dié opvangsgebiede nie verwyder word nie.

Indringerplante en -bome is geneig om meer water te gebruik as inheemse plante en bome. Aangesien Suid-Afrika beperkte waterbronne het, is dit noodsaaklik om te bepaal wat die teenwoordigheid van indringerplante en -bome op die land se watervoorraad sal hê.

Die studie is gedoen met die aanname dat geen bestuur van indringerplante gedurende die volgende 45 jaar in die opvangsgebiede plaasvind nie. Data wat in 2007 en 2008 vir die nasionale indringerplantopname ingesamel is met 2008 as die basisjaar, is gebruik om ’n vooruitskatting te maak van wat die koste en opvolgkoste van die verwydering van dié plante sou wees.

Le Maitre sê herhaaldelike verwydering is nodig om van dié plante ontslae te raak. Dit help ook om die verwydering van die plante met ’n brand op te volg. Volgens Le Maitre verseker dit nie net die vernietiging van die plant nie, maar ook van sy saad. 

Bergrivierdam

Die Bergrivierdam by Franschhoek vorm deel van ’n skema wat water aan Kaapstad voorsien. Die taak om indringerplante in dié gebied te verwyder is aan die Regering se Werk-vir-Water-projek toegesê. Teen die einde van 2013 is R90 miljoen aan die verwydering van denne- en akasiabome op 3 600 ha bestee.

Die navorsers voorspel dat as indringerplante in hierdie gebied glad nie bestuur word nie, kan die gebied wat hulle in beslag neem, van 3% tot tussen 49% en 99% toeneem. Die gevolg sal wees dat die invloei van water met tot 50% kan afneem, wat ernstige implikasies sal hê vir Kaapstad en besproeiingskemas wat van dié dam afhanklik is. Om dan die indringerplante te probeer verwyder, sal tot 3 000% meer kos as wat dit op die oomblik kos. 

De Hoopdam

Die De Hoopdam is in die Steelpoortrivier. Hoofsaaklik bloekom- en wattelbome kom in sy opvangsgebied voor. Teen die einde van 2013 het Werk-vir-Water bykans R3 miljoen bestee om dié indringerplante van 180 ha te verwyder.

Volgens die navorsers se vooruitskatting kan die gebied wat dié indringerplante gedurende die volgende 45 jaar in beslag neem, van 7% tot tussen 53% en 55% toeneem. Die dam se invloei kan dan met tussen 42% en 44% afneem, terwyl die koste om die plante te verwyder met tot 700% kan styg.

Die navorsers wys in hul verslag daarop dat damme gebou word met die doel om 98% watersekerheid te bied, met ander woorde dit sou net 2 uit elke 100 jaar nodig wees om waterbeperkings in te stel. As die voorkoms van indringerplante nie aangepak word nie, sal waterbeperkings meer gereeld ingestel moet word.

Dan sal Suid-Afrika ’n groot probleem ten opsigte van watersekerheid ontwikkel, sê Le Maitre.

In die lig van die bevindinge van hul navorsing sê die navorsers dit is ’n mors van geld om ’n dam te bou sonder ’n plan vir die verwydering van indringerplante en ’n strategie om dié plante uit die dam te hou.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.