Dit is van die belangrikste bevindings van ’n nuwe statusverslag oor biologiese indringers en hoe dit bestuur moet word.

Indringerspesies wat die grootste uitwerking het, is swartwattel, lantana, dennespesies, bloekom, portjackson, rooikrans, Hakea, Prosopis, populier en treurwilger. Die plante verminder waterafloop met 1 500 miljoen tot 2 500 miljoen kubieke meter per jaar. Dit is gelykstaande aan die kapasiteit van die Jozinidam in KwaZulu-Natal. Die uitwerking is die grootste op opvanggebiede in die Wes- en Oos-Kaap en KwaZulu-Natal.

As niks aan die toedrag van sake gedoen word nie, kan die afname in waterbronne 2 600 miljoen tot 3 200 miljoen kubieke meter per jaar wees. Dit is dubbel die huidige beramings.

Die verslag, The status of biological invasions and their management in South Africa, meld dat maatreëls om die spesies te bekamp die beste werk waar geïntegreerde benaderings gevolg word. Dit sluit in stappe om die inbring van spesies met ’n hoë risiko om indringers te word, te voorkom en die vroeë opsporing en uitroeiing van indringerspesies, asook die bestuur van die spesies wat versprei het.

Net een onderskeppunt

Die Departement van Omgewingsake het egter net ’n konstante teenwoordigheid by die lughawe O.R. Tambo, een van die 72 amptelike grensposte, om vreemde spesies te onderskep en te voorkom dat hulle die land binnekom.

Die departement doen van tyd tot tyd inspeksies saam met ander departemente, maar daar word hoofsaaklik op grensinspeksies deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye staatgemaak om te keer dat vreemde spesies die land binnekom.

Indringerplante bedreig ook die produktiwiteit van weiveld en die verslag beraam dat dit veeproduksie op die besmette grond met die helfte kan verminder.

Suid-Afrika het die afgelope paar jaar swaar onder brande deurgeloop. Die slegte nuus is dat indringerplante die struktuur en hoeveelheid material wat geproduseer word, kan verander en sodoende brandbare materiaal vermeerder en die erns van veldbrande kan verhoog. Dit kan die skade deur die brande verhoog en dit moeilik maak om die brande in bedwang te bring.

Doelbewus én toevallig

Altesaam 2 034 uitheemse plant- en dierspesies het buite die gebiede waar hulle verbou of aangehou word, gevestig. Die meeste van die spesies is doelbewus hierheen gebring vir landbou, bosbou, seekosboerdery of die troeteldierhandel. Ander spesies beland “per ongeluk” in Suid-Afrika, as verstekeling op skepe en vliegtuie of as besmetting in handelsprodukte.

Hoewel Suid-Afrika een van net ’n paar lande is wat wetgewing het om indringers te bestuur, sê dr. Moshibudi Rampedi, uitvoerende hoof van die Suid-­Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit (Sanbi), dat die ekonomiese skade deur indringers jaarliks miljarde rande beloop en boonop toeneem hoe meer vreemde spesies ingebring word.

Die indringerprobleem is die grootste in die Wes-Kaap, Mpumalanga, Noord-Kaap en KwaZulu-Natal. Sowat 28% van die Wes-Kaap is deur vreemde plante soos wattel, denne en Hakea ingeneem. Indringerplante soos wattel, lantana en luisboom/groot bitterappel (bugweed) het 16% van Mpumalanga ingeneem, terwyl 14% van die Noord-Kaap deur Prosopis-bome ingeneem is.

Luidens die verslag beteken die syfers nié dat daar nie probleme met indringerplante in ander provinsies is nie. Die beramings is 20 jaar oud en die voorkoms van indringerplante sou vir seker sedertdien verander het.

Werk bekampingsmaatreëls?

Die Suid-Afrikaanse Regering takel die probleem deur biosekerheid, die vroeë opsporing van indringerspesies en projekte soos Werk vir Water wat indringerplante uitroei én werk skep. Die projekte behaal gemengde resultate, maar 15 van die 60 indringerspesies wat vir biologiese bekamping geoormerk is, word heeltemal beheer. Nog 19 spesies word noemenswaardig beheer.

Dis moeiliker om indringerdiere te bekamp, maar wilde katte is uitgeroei op Marioneiland en kraaigetalle is aansienlik verminder in Kaapstad en Durban.

Lees die volledige verslag hier.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.