Boere en konsultante kan deur slegs foto’s en kontakbesonderhede na die inisiatief se WhatsApp nommer te stuur, ’n identifikasie van die inisiatief vir geïntegreerde plaagbestryding (IPM) ontvang, sê me. Caro Kapp, die koördineerder van die inisiatief en ’n doktorale student in aalwurmkunde aan die US.

“Die ideale praktyk sal wees as die boer of konsultant die foto aan ons stuur met volledige inligting van die ligging, die gasheerplant waarop die insekte gevind is en kontakinligting waar ons hom of haar in die hande kan kry. Ons gebruik dan morfologiese en molekulêre tegnieke om insekte te identifiseer. Deur te weet watter insekte die probleme in ‘n landery of boord veroorsaak, kan die boer meer ingeligte besluite neem oor geïntegreerde plaagbesbestryding in sy of haar boerderye,” sê Kapp.

Die WhatsApp-nr. is 076 806 7829 

Teel jou eie insekte

Intussen gaan die IPM-Inisiatief van 16 tot 20 Julie ’n insekteling-en-produksiekursus aanbied.

Kapp sê insekte kan vir verskeie doeleindes geteel word. “Die lesings op die werksessie handel oor verskeie onderwerpe, insluitend die wetenskaplik gebaseerde teling van insekte op groot skaal, die grootskaalse vermeerdering van hierdie insekte, genetika, fisiologie, insekvoeding, insektariumontwerp, gehaltebeheer, gesondheid, veiligheid en insekpatologie.”

Sessies oor geïntegreerde plaagbestuur wat gerig is op almal van die boordmonitor tot die plaasbestuurder word beoog, asook een oor die indentifikasie van valskodlingmot. “Indien lesers enige ander kwessies of idees het wat getakel kan word in ‘n werksessie, kan hulle ons gerus kontak,” sê sy.

Vir verdere navrae, kontak Kapp by e-pos ckapp@sun.ac.za of tel. 021 808 9600.