Hoewel die landbou sedert die aanvang van die inperking as ’n noodsaaklike diens geklassifiseer is, is alle bedrywighede nie toegelaat nie.

Ingevolge die nuwe regulasies is alle landbouproduksie, jag, bosbou, visserye, byeboerdery, voorbereidings vir die verbouing, oes en opberg van gewasse, asook die vervoer van vee, veilings, en verwante landbou-infrastruktuur en dienste toelaatbaar, het me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gesê. Veilings sal onder streng gesondheidsmaatreëls toegelaat word en nie meer as 50 mense mag dit bywoon nie.

Didiza het met die aankondiging van die regulasies boere en plaaswerkers bedank vir hul onbaatsugtige gebaar om ondanks die voorkoms van die koronavirus voort te gaan om die land te voed en voedselsekerheid te verseker. Aangesien die verbod op beweging tussen provinsies – behalwe in die geval van uitsonderlike omstandighede –  steeds geldig is, het Didiza gevra dat boere liefs seisoenale werkers in hul omgewing of provinsie moet gebruik waar nodig.

Die verkoop van drank en sigarette word steeds verbied. Die sigaretbedryf het teen druktyd aangedui dat hy hom na die hof sal wend om die verbod op die verkoop van sigarette om te keer.

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het gesê dat die rook van sigarette rokers se longe affekteer en dat dit ’n groot gesondheidsrisiko inhou, veral met Covid-19 wat ook die asemhalingstelsel aanval. Altesaam 2 000 insette is teen die verkoop van sigarette ingedien.

Agri SA dankbaar vir vrystelling van hele landboubedryf

Intussen sê mnr. Christo van der Rheede, adjunk- uitvoerende direkteur van Agri SA, die betrokkenheid van die organisasie by die ministeriële taakspan wat die minister van landbou die afgelope tyd met raad en insette bygestaan het, het vrugte vir die landbousektor afgewerp.

Die aankondiging dat die hele landbouwaardeketting op vlak 4 vrygestel is van enige inperkings, met die uitsondering van die verkope van alkohol en tabak, is inderdaad ’n veer in die hoed van mnr. Omri van Zyl, uitvoerende hoof van Agri SA, sy personeel, die direksie en die provinsiale, bedryfs- en korporatiewe affiliasies.

Boere kan nou ongehinderd voortgaan met die veiling van lewende hawe en ander landbouprodukte soos wol en katoen. Dit bly egter onderworpe aan streng higiënevoorsorgmaatreëls en ’n beperking van 50 mense per veiling. Daarmee saam is noodsaaklike landboudienste soos navorsing, inspeksies, sertifisering en gehaltebeheer ook van inperkings vrygestel.

Van der Rheede sê dat hulle hul kontakte die afgelope tyd ingespan het om invoer en uitvoer by die Suid-Afrikaanse hawens ten volle aan die gang te kry. In die proses het Transnet uit sy pad gegaan om vragskepe toegang tot die hawens te verleen om swaar landboumasjinerie en ook chemikalieë wat noodsaaklik is vir die voorbereiding van graanlanderye in die Wes-Kaap af te laai. Boere in die Wes-Kaap en Graan SA se bekommernis dat die chemikalieë nie betyds sou aankom nie, is deur hierdie aksie bygelê.

’n Groter probleem vir maatskappye wat landboumasjinerie invoer, was om permitte te bekom om abnormale vragte te vervoer. Agri SA het met die departement van vervoer geskakel waarna dit as noodsaaklike diens verklaar en permitte beskikbaar gestel is. Dit het die maatskappye in staat gestel om ingevoerde landboumasjinerie betyds vir die stroopseisoen aan hul kliënte af te lewer, sê Van der Rheede.

Ander goeie nuus vir die sektor is dat die bou van infrastruktuur op plase en deur landboubesighede ook goedgekeur is. Suid-Afrika se kommersiële landbousektor voorsien plaaslik en internasionaal landbouprodukte, terwyl dit werk skep vir nagenoeg 850 000 mense en miljarde rande se buitelandse valuta vir Suid-Afrika verdien.