“In die tyd voor die inperking en selfs nou vlieg die (Eureka-meel) produkte van die rakke af. Dit ding mee met toiletpapier en ontsmettingsmiddels ten opsigte van gewildheid,” sê me. Annelie van Wyk, hoofbestuurder van bemarking by Sentraal Suid Koöperasie.

SSK het onlangs op sy Facebook-blad aangekondig dat daar tans groot vraag is na Eureka Meulens se steengemaalde produkte.

Mnr. Nico Steyn, bestuurder van Eureka Meulens by Karringmelksrivier naby Heidelberg in die Wes-Kaap, sê algemene verkope by kleinhandelskanale het in die afgelope tyd verdubbel. Rakke word leeg gekoop met paniekinkopies. “Ons witbroodmeel is die gewildste, maar ons bruinbroodmeel en volgraanmeel is ook in aanvraag.”

Volgens Van Wyk kan hulle onder normale toestande skaars voorbly om in die vraag te voorsien.Eureka se produkte is tans as noodsaaklike produk beskikbaar by SSK se Agrilandtakke en kleinhandelaars soos Pick n Pay, Checkers, Spar en Food Lovers Market reg oor die land.

Eureka Meulens is ’n filiaal van SSK. Hy lewer steengemaalde witbrood-, bruinbrood-, koek- en volkoringmeel van plaaslik geproduseerde koring, asook gekneusderog- en rogmeel.

Hy bied ook ’n Easy Home Mix-reeks wat die steengemaalde meel as bestanddeel gebruik vir die maak van vetkoek, pizza, beskuit, koekies en verskeie broodsoorte, wat selfs beginnerkokke in kokkedore kan laat verander, sê Van Wyk. Daar is ook ’n reeks klaargemengde beskuit- en koekieprodukte.

Volgens Steyn lewer die meul tans 90% van sy bestellings volledig. Omdat die maatskappy sy steengemaalde meel landwyd versprei, bly sy grootste kwessie in die periode van paniekinkopies om sy produkte betyds by al die kleinhandelskanale se verspreidingsaanlegte te kry.

“Eureka Meulens vra sy gereelde en nuwe klante om geduldig te wees. Ons maal en versend so vinnig as moontlik om ons produkte by al ons verbruikers uit te kry, maar die belangrikste is dat almal asseblief veilig moet bly en mekaar se gesondheid respekteer.”

In sommige winkels word kopers beperk tot een van die produkte per slag.

Hy voeg by dat dit is tans die maatskappy se grootste prioriteit om sy personeel te beskerm en veilig te hou teen die uitbreking. Dit bly ook belangrik te midde van al die produksie-, logistieke en verspreidingskwessies om al die afdelings gemotiveerd te hou.Eureka se personeel werk in spanne ses dae per week 24 uur per dag om soveel moontlik produkte en bestellings reg te kry.

SSK sal voortgaan om in die tyd van inperking sy deure oop te hou as noodsaaklike diens vir die landbou.“SSK het oor die afgelope 89 jaar sy lede deur dik en dun bygestaan. Tydens hierdie onseker tye sal SSK voortgaan om die diens waaraan ons lede en kliënt gewoond is, gestand doen,” sê mnr. Erenst Pelser, uitvoerende hoof van SSK.

“Ons deure bly dus oop in die tyd van inperking en ons aankope-afdeling bly toegespits daarop om ons voorraadbestuur na die beste van ons vermoë te hanteer. Bedrywe soos handel, veevoervervaardigers, meganisasie en saad is soos gewoonlik en tydens gewone werkstye oop, terwyl die administratiewe en versekeringspersoneellede van hul wonings diens doen.”