Hierdie verduideliking het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, aan die parlement se portefeuljekomitee vir samewerkende regering en tradisionele sake gegee tydens ’n virtuele komiteevergadering.

“As jy toelaat dat gekookte kos verkoop word, beteken dit alle plekke wat kos verkoop, moet ook toegelaat word om warm kos te verkoop. Hul besigheid is die verkoop van warm kos. En as jy hulle toelaat, dan kan jy die inperking koebaai soen want almal – in die oggend, in die middag, in die aand – kan net sê hulle gaan pizza koop, burger, KFC of dit of dat.”

Volgens Dlamini-Zuma is die oogmerk met die inperking om mense se beweging te beperk sodat die verspreiding van die virus bederk kan word om die kurwe af te plat.

“Indien die kurwe vinnig styg, sal dit ons gesondheidsdienste gou oorweldig en ons sal dit nie kan hanteer nie. Dan sal mense siek wees by die huis en doodgaan soos vlieë. Ons wil nie dit hê nie.”

Die regering verbied die verkoop van sigarette om mense te verhinder om heen en weer na die winkel te gaan, net om sigarette te koop.

Haastig

Dlamini-Zuma het op Donderdag 20 April die regulasie rakende die verbod op warm, gekookte kos in die Staatskoerant afgekondig.

Dit het gekom op die dag toe die DA ’n hofgeding teen mnr. Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, aanhangig sou maak omdat hy verkeerdelik aangedui het dat gekookte kos “volgens wet” nie gedurende die inperkingstydperk verkoop mag word nie.

Oor die verbod op die vervoer van alkohol het sy gesê daar is “miljoene, miljoene tonne wyn” en ander goedere by die hawens wat uitgevoer word. Volgens die wynbedryf word weekliks ongeveer R200 miljoen aan uitvoer verloor. Die uitvoer van wyn is die tweede grootste landbougewas naas sitrus wat uitgevoer word.

Uitfasering

Dlamini-Zuma het gesê die inperking sal geleidelik versag word en dat die plekke waar hoë voorvalle van die koronavirus voorkom, strenger inperkingsreëls sal hê.

Die inperking is veronderstel om 30 April tot ’n einde te kom, maar die regering het reeds verskeie kere aangedui dat dit in fases uitgefaseer sal word. Hoe presies dit sal gebeur, sal nog aangekondig word.