Die ekonomiese groep van die regering, wat die landbousektor insluit, het nader besonderhede gegee oor die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het. Dit tree in werking wanneer die nasionale inperking Donderdag om middernag begin en sal 21 dae duur.

Op Dinsdag 24 Maart 2020 het 554 mense in die land positief vir die koronavirus getoets. Die verwagting is dat hierdie syfer, ondanks die nasionale inperking, in die volgende twee weke nog sal styg, het dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, gesê.

Die land se voedselvoorsieningstelsel sal funksioneel gedurende hierdie tydperk bly, het Didiza gesê. “Landbouproduksie in al sy vorme sal onaangeraak bly. Dit sluit in alle dienste, insluitend veeartsenykundige en voorligtingsdienste.”

Veilings kan voortgaan

Veilings en die verkoop van ander landboukommoditeite sal voortgaan onder die baie streng voorwaardes wat die president aangekondig het. Didiza het gesê dat nie meer as 100 mense ’n veiling mag bywoon nie.

Die uitvoer en invoer van belangrike landboukommoditeite en die vervoerstelsels wat daarmee gepaardgaan, sal voortgaan om te verseker dat wêreldwye en nasionale voedselsekerheid behoue bly.

“Dit is nie net beperk tot kleinhandelaars nie, maar die hele voedselwaardeketting, vanaf plaasbedrywighede, landbouverwerking, kosvervaardiging, logistiek en verwante dienste, groothandelaars en alle ondersteuningsfunksies wat die doeltreffende lewering van die voedsel verseker.”

*Intussen is ’n pamflet beskikbaar gestel om mense in verskillende tale in te lig oor hoe om hulself teen die koronavirus te beskerm. Dis in verskillende tale beskikbaar en word ook aan mense wat op plase werk beskikbaar gemaak. 

pamflet
Die pamflet in Engels
pamflet
Die pamflet in Xhosa
pamflet
Die pamflet in Zulu
pamflet
Die pamflet in Afrikaans