Die organisasie se bestuur sê hulle probeer hul bes om antwoorde op die talle vrae te kry, en sal inligting en riglyne versprei so gou hulle kan.

Die organisasie wys daarop dat die landbouwaardeketting as noodsaaklike dienste beskou word ingevolge die totale inperking wat van Donderdagnag 26 Maart op mense se bewegings geplaas word.

Hortgro sê plase en pakhuise sal dus binne die beperkings van risikobestuurspraktyke kan voortgaan met hul bedrywighede en dat produkte na binnelandse en buitelandse markte sal kan vloei. Vrae rondom kwessies soos die vervoer van produkte, werkers en insette sal hopelik binne die volgende twee dae beantwoord word.

Die vrugtebedryf verwag dat die vraag na vrugte skerp kan toeneem tydens die 21 dae van inperking wat die regering ingestel het om verspreiding van die koronavirus hok te slaan.

“Verbruikers gaan ’n gesonde dieet moet volg in hierdie tyd en daarom beoog Hortgro om plaaslike en internasionale markte van veilige, gesonde vrugte te voorsien,” sê die organisasie op sy webwerf.

Mnr. Jacques du Preez, Hortgro se bestuurder vir handel en markte, sê vanjaar se appeloes lyk besonder goed en hy hoop dat die Covid-19-pandemie nie uitvoer benadeel nie.

Me. Adéle Ackermann wat vir Fruit SA namens die hele vrugtebedryf oor Covid-19 kommunikeer, sê die organisasie sal later Dinsdag ’n volledige verklaring uitreik, maar dat Fruit SA reeds riglyne aan boere op plase gestuur het vir voortgesette landboubedrywighede binne die raamwerk van die inperking.

Elke produsente-organisasie se leierskorps is tans in strategiese vergaderings gewikkel om protokolle vir hul eie organisasies op te stel wat sal strook met die bepalings van pres. Cyril Ramaphosa se inperkingsmaatreëls, sê Ackermann.

“Ons wil sien dat alle bedrywighede in die waardeketting – van pluk en pak tot die uitvoer na ons oorsese kliënte – so glad moontlik verloop sonder om werkers of verbruikers te benadeel,” sê Ackermann.