Die ad hoc-komitee wat wetgewing moet inisieer vir die onteiening van grond sonder vergoeding, en ’n sitting oor wysigings aan die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte (Wet 112 van 1991) moes uitgestel word. ’n Verlenging moes ook vir die vuurwapenamnestie gevra word.

Die feit dat die werksaamhede rondom die regering se pogings om onteiening sonder vergoeding duidelik in artikel 25 van die Grondwet in te skryf vir eers uitgestel is, is sekerlik een ding waaroor menige landsburgers verlig is.

Die mandaat van die ad hoc-komitee om sy werk te voltooi verstryk einde Mei. In Maart moes hy sy openbare verhore oor die voorgestelde wysigings opskort toe die voorkoms van die koronavirus in die land tot ’n nasionale ramp verklaar is. Die komitee was van voorneme om die openbare verhore teen 22 Maart te voltooi sodat die komiteeverslag op 25 Maart aanvaar kon word. Hierna sou die wetgewing en alle geskrewe kommentaar aan die speaker, me. Thandi Modise, gestuur word om in die nasionale vergadering ter tafel gelê te word. Die geskrewe kommentaar sou ook na die nasionale raad vir provinsies gestuur word.

Die komitee het onlangs op ’n vergadering besluit dat sy voorsitter, dr. Mathole Motshekga, die speaker moet vra vir ’n verlenging van sy mandaat.

Opgradering van regte

Die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte wat die Grondwethof in 2018 ongeldig verklaar het, sal teen middel Junie voor die nasionale ekonomiese, ontwikkelings- en arbeidsraad (Nedlac) dien.

Die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het daarom besluit om ’n vergadering uit te stel waarin die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling ’n voorlegging oor sy vordering met hierdie wet moes maak. Die departement sal op 26 Junie voor die komitee moet verskyn. Die uitstel sal nie net Nedlac nie, maar ook die nasionale huis van tradisionele leiers die geleentheid bied om insette rakende die wetsontwerp te lewer, sê mnr. Mandla Mandela, voorsitter van die portefeuljekomitee.

Die Grondwethof het die wetgewing op 30 Oktober 2018 ongeldig verklaar in die saak van Rahube teen Rahube omdat dit slegs mans as die hoofde van ’n familie erken en meebring dat grondbesitregte wat outomaties in eienaarskap omgeskakel word, dan slegs mans bevoordeel. Die hof het die regering 18 maande tot 30 April 2020 gegee om die wet te wysig.

Die departement het vroeër aangedui dat hierdie wetgewing van die dringendste is waaraan aandag gegee moet word. Die departement moes by die hof uitstel vra, want as die wysiging nie betyds plaasvind nie, sou dit beteken dat die eienaarskap wat mense vanweë die wetgewing gekry het, nietig sou wees, want hulle sal dan eers ’n hersieningsproses vir eienaarskap moet deurgaan.

Die hof het uitstel van ’n verdere 12 maande verleen, wat beteken dat die wetgewing teen 30 April 2021 gefinaliseer moet wees. Gegewe die inperking weens Covid-19 en die feit dat die wetgewing ’n artikel 76-wetsontwerp is wat beteken dat provinsies insette sal moet lewer, sal die parlement moet besin of hy genoeg tyd sal hê om die wetgewing deur die nodige parlementêre prosesse te voer.

Die wetgewing is nog nie vir openbare kommentaar gepubliseer nie, wat ook beteken dat daar nog nie geleentheid gegun is openbare kommentaar nie.

Vuurwapen amnestie

Met die vuurwapenamnestie wat einde Mei verstryk, moes mnr. Bheki Cele, minister van polisie, die parlement om vir ’n verlenging van die amnestietydperk vra. Die amnestietydperk van ses maande geld van 1 Desember 2019.

Cele het op ’n mediakonferensie gesê hy het vir ’n verlenging gevra omdat daar ’n skerp daling in die vrywillige inhandiging van vuurwapens was sedert die begin van die inperkingstyd. In April is slegs 385 vuurwapens ingehandig. “Ons glo die skerp daling sedert April kan weens die inperking wees, want die beweging van mense is beperk en die inhandiging van vuurwapens is nie verklaar as ’n noodsaaklike diens nie.”

Sedert Desember is meer as 16 000 vuurwapens en 140 000 patrone ingehandig. Teen druktyd was die nuwe sperdatum nog nie bekend nie.