Só sê me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling.

Die ministeriële groep vir justisie, misdaadvoorkoming en sekuriteit het riglyne oor wat tydens die nasionale staat van inperking toelaatbaar en ontoelaatbaar gaan wees, by ’n mediakonferensie uiteengesit. Klik hier vir die volledige dokument.

Die landbousektor, as ’n noodsaaklike voedselprodusent, vorm deel van die noodsaaklike dienste wat steeds operasioneel moet wees ter wille van voedselsekerheid. Di?é sektor is egter ook uniek wat sy werksmag betref. Boere is bekommerd daaroor of hulle hul werkers tydens die inperking van 21 dae mag vervoer sodat hulle kosinkopies kan gaan doen.

Tydens die mediakonferensie is dit beklemtoon dat alle regulasies streng nagekom moet word en dat oortreding tot ernstige gevolge kan lei, waaronder tronkstraf. Die vervoer van werkers om kos te gaan koop, word nie as ’n noodsaaklikheid beskou nie. Daar is ook streng reëls oor hoeveel mense in ’n voertuig mag wees. Gevolglik is Steyn se aanbeveling baie nuttig.

“Hoewel die landbou as ’n noodsaaklike diens uitgesonder is, moet die regulasies ten opsigte van die inperking steeds nagekom word om almal se veiligheid te verseker in hierdie moeilike tyd.”

Steyn het onderneem om duidelikheid te kry oor of die vorm wat die landbou self opgestel het, steeds gebruik mag word en hoe die reël dat groepe tot 50 mense beperk moet word die bedryf gaan raak.

In die regulasies wat in die Staatskoerant gepubliseer is, is ’n soortgelyke vorm ingesluit, naamlik ’n permit om noodsaaklike dienste te mag lewer. Mnr. Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het gesê alle noodsaaklike dienste kan hierdie vorm gebruik as ’n metode van identifikasie. Dit sluit die landboubedryf in.

Voedsel en drank

Die regulasies wat dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie vir beplanning, monitering en evaluering, in die Staatskoerant gepubliseer het, lui onder meer dat enige kosproduk, waaronder nie-alkoholiese drankies, kos vir diere, chemikalieë, verpakking en aanvullende produkte wat gebruik word in die vervaardiging van enige kosprodukte, as noodsaaklike goedere en dienste tydens die inperking gesien word.

Genl. Bheki Cele, minister van polisie, het gesê die weermag sal ontplooi word, voetpatrollies en padblokkades sal gehou word en voertuie sal deursoek word om te verseker dat die beweging van mense en voertuie tot die minimum beperk word. Diegene wat verantwoordelik is vir die vervoer van noodsaaklike goedere of die lewering van noodsaaklike dienste is uitgesluit by die beperkings vir die algemenge publiek (wat net hulle huise mag verlaat om voedsel, medisyne en ander noodsaaklike dienste te bekom).

Werkers wat noodsaaklike dienste lewer en die grens na ’n ander provinsie moet oorsteek, sal onderwerp word aan die nodige ondervraging en toetse van die departement van gesondheid.

Cele het gesê “absoluut geen byeenkomste buiten begrafnisse” sal geduld word nie. Die getal begrafnisgangers mag nie meer as 50 wees nie en aanddienste is verbied. Drank mag ook nie verkoop word nie en die publiek mag nie met drank in hul motors rondry nie.

Cele het benadruk dat slegs die goedere en dienste wat in die regulasies gelys is, toegelaat sal word. “Enigiets wat nie op hierdie lyste is nie, sal nie toegelaat word nie. Daarom sal enigeen wat die regulasies oortree, skuldig bevind word. Hy/sy sal ’n boete moet betaal of tronkstraf kry van nie meer as ses maande nie of albei.”

Vervoer

Mnr. Fikile Mbalula, minister van vervoer, het gesê minibustaxi’s sal toegelaat word om diegene wat noodsaaklike dienste lewer na en van hul werkplekke te vervoer. Dit mag gedoen word van 05:00 tot 09:00 en weer van 16:00 tot 20:00. Dieselfde reëls geld vir metertaxi’s. Die hoeveelheid insittendes word egter beperk. In ’n voertuig waarin gewoonlik vier mense vervoer mag word, mag net een persoon vervoer word tydens die inperking. In voertuie wat geskik is vir agt passasiers, mag nou maksimum vier vervoer word.

Alle internasionale en plaaslike vlugte is verbied en slegs noodsaaklike goedere sal ingelaat word. Slegs noodsaaklike vragte sal by Suid-Afrika se agt hawens ingelaat word.

Slegs goedere wat as noodsaaklik geklassifiseer word, sal per vragvervoer oor die grens na en van buurlande vervoer mag word.

Die publiek moet daarop let dat ’n bestuurderslisensie wat tydens die inperking verval, geldig sal wees tot ná die inperking en dat ’n grasietydperk van 14 dae sal geld.

Die 10111-noodnommer sal ook funksioneel wees tydens die inperking.