Pres. Cyril Ramaphosa het die inperking op Maandagaand 23 Maart 2020 aangekondig. Die regulasies sal geld vanaf middernag op Donderdag 26 Maart tot middernag op Donderdag 16 April.

Die lys van noodsaaklike dienste en goedere – soos voedselproduksie – word in Afdeling B van die dokument (op bl. 8) uitgelig. Die formaat van die permit wat nodig is om ’n basiese diens te kan lewer, is onder Afdeling C op bl. 9 beskikbaar.

Bepalings oor die beweging van persone en die vervoer van goedere word op bl. 4 in regulasie 11b (2) genoem. Die hoof van ’n instansie wat ’n noodsaaklike diens lewer, moet bepaal watter noodsaaklike dienste sy of haar instansie moet lewer. Daar moet ook bepaal word watter personeel noodsaaklik sal wees om dié dienste te kan lewer.

In die afdeling oor die beperking van openbare vervoer (regulasie 11C (2)) word bepaal dat wanneer ’n persoon wat ’n noodsaaklike diens lewer nie na sy of haar werkplek sal kan reis nie, die werkgewer die nodige reëlings moet tref. Tydens die inperking mag voertuie onder meer nie meer as 50% van die getal individue vervoer as waarvoor die voertuig gewoonlik gelisensieer is nie. Die voertuie moet ook voldoen aan die voorgeskrewe streng reëls wat higiëne betref.

Die volledige dokument is hier beskikbaar.

Hou Landbou.com dop vir nog berigte oor die koronavirus die landbou raak en die staat van inperking.