Wat verbasend is, is dat sy nie self vir die kompetisie ingeskryf het nie. Haar ma, Maria, het namens haar dogter ’n stemnota ingestuur, want sy het geglo in haar kind se goue stem. Toe die AGT-span haar bel om haar geluk te wens en meedeel dat sy deel uitmaak van die toptien, was Roshdene verslae.

Die AGT-span het Roshdene verlede week op Sandhoek ingewag en op Facebook aangekondig dat sy die wenner is.

Sy sê sy is baie trots op haarself, veral omdat sy nog nooit vantevore ’n kompetisie gewen het nie. “Ek wil net baie dankie sê vir die AGT-span, en vir alles wat hulle vir ons beteken het. Ek het as sangeres en mens die afgelope paar weke baie gegroei en sien uit na wat vorentoe gaan gebeur.”

Die eindronde is onlangs by Goudini Spa by Worcester opgeneem en daarna vir die beoordelaarspaneel en AGT se aanhangers op Facebook geplaas. Die beoordelaars was beïndruk met die deelnemers se outentieke vertonings.Me. Jenny Maarman van Diemerskraal, Wellington, was in die tweede plek en die indrukwekkende rymkletser mnr. Bradwin Jonas van Rietfontein, buite Ceres, derde.

Die Crowd Favourite-wenner, vir wie die publiek via WhatsApp of SMS kon stem, was mnr. Sivenathi Ndzakayi van Citrus Foundation Block by Uitenhage. Hy sê die kompetisie het sy lewe verander. “Ek sal vir ewig dankbaar wees vir hierdie geleentheid. Ek weet nou dat ek soveel meer met die lewe kan maak.”

AGT is vanjaar vir die sewende keer aangebied. Die doel van die kompetisie is om werkers in die sitrus-, sagtevrugte-, tafedruif- en wynbedryf die kans te gee om hul sangtalent ten toon te stel.

Inskrywings vir die kompetisie het in Maart vanjaar oopgemaak. Met die uitbreking van die Covid-19-pandemie is die kompetisie byna afgelas. Die AGT-span wat deur die verskillende bedryfsborge ondersteun word, het egter besluit om deur te druk en die kompetisie digitaal aan te bied.Deelnemers is deels via selfone afgerig, terwyl die AGT-span hulle op die plaas besoek en die opleiding só voltooi het.

“Logisties was dit soms ’n nagmerrie, maar ons is baie trots op vanjaar se deelnemers,” sê me. Thea van Zyl, AGT-koördineerder. “Weens Covid-19 het ons nie ’n gala-aand gehad nie. Dit het baie druk op die deelnemers geplaas, wat net voor ’n kamera, sonder ’n gehoor se ondersteuning, moes optree.

“Ons wil Hortgro, Sati, VinPro-stigting, die Sitrusprodusentevereniging en die Wes-Kaapse departement van landbou bedank vir hul ondersteuning om hierdie projek in 2020 te verwesenlik – ’n jaar waarin almal ’n bietjie AGT-paljas nodig het.”

Besoek AGT se Facebook-blad by www.facebook.com/agrisgottalent of besoek die webwerf www.agrisgottalent.com vir nog inligting.