Mnr. Deon Saayman, hoofbestuurder van Cape Wools SA, het in sy reaksie ná die regering se aankondiging gesê die uitvoer van wol het tot dusver normaal verloop, maar dat die verhandeling daarvan in die volgende weke tot stilstand sal kom.

Die Suid-Afrikaanse wol-en-bokhaarkopersvereniging (Sawamba) en die makelaars het ooreengekom om alle bedrywighede en wolveilings van Donderdag af te staak, ten spyte van “die moeilike aard van dié besluit”.

“Dit is onafwendbaar dat alle bedrywighede ten opsigte van die ontvangs, verpakking, toets en verskeping van wol van Vrydag 27 Maart 2020 af gestaak word,” sê Saayman.

“Ons is as deelgenote in die wolbedryf terdeë bewus van die uitwerking van die maatreëls op alle betrokke ondernemings en produsente, maar ons moet die regering se besluit ondersteun om die verspreiding van die virus te beperk.”

Luidens ’n verklaring sal wolveilings spoedig ná die opheffing van die inperkingsmaatreëls hervat word. Die veilings sal só geherrangskik word om aan die katalogusvereistes te voldoen, selfs al moet die veilings tot ná die tradisionele veilingseisoen voortgesit word.

Saayman sê die uitwerking van die verspreiding van die virus op die wêreldwye wolhandel het die afgelope paar weke soos ’n veldbrand versprei.

“Ons vertrou dat wolhandel en -verwerking spoedig na aanvaarbare vlakke sal terugkeer.”

Cape Wools beveel aan dat boere hul makelaars regstreeks met navrae oor die bemarking van hul wol nader. 

RPO steun inperking

Intussen word ’n sterk vraag na rooivleis steeds plaaslik ondervind en die uitvoer daarvan gaan normaal voort, ten spyte van die drastiese maatreëls om die verspreiding van die Covid-19-virus te beperk.

Volgens die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) word meer as 95% van die lam-, skaap- en beesvleisproduksie plaaslik verbruik.

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die RPO, ondersteun pres. Cyril Ramaphosa se inperkingsmaatreëls. “Die RPO het kennis geneem dat landbouproduksie en in besonder rooivleisproduksie in die inperkingstydperk van 21 dae voortgaan. Die RPO aanvaar die maatreëls met die nodige verantwoordelikheid," sê hy.

Dit sluit noodsaaklike werksaamhede, soos slag, voorsiening van die waardeketting, veterinêre en fitosanitêre dienste, en produksieverwante aksies, soos voer- en watervoorsiening, in.

“Gesonde individuele selfregulering is die wagwoord,” sê Van der Ryst. “Kontak met lede van die samelewing en bedryf moet tot die noodsaaklike minimum beperk word. Die werksmag moet tot die minimum afgeskaal word.”

Die RPO is onder meer verbonde aan die tegniese taakspan wat me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, aangewys het. Die RPO se WhatsApp-groep ten opsigte van bek-en-klouseer is in ’n Covid-19-groep omgeskakel en sal gereeld inligting versprei. Om deel van dié groep te word, stuur ’n SMS na 082 788 9012.

“Ons as rooivleisprodusente wil die publiek verseker dat ons sal aanhou produseer en dat ’n tekort aan rooivleis nie gevrees hoef te word nie. Gelukkig is die grootste deel van Suid-Afrika geseën met goeie reën wat rooivleisproduksie ondersteun,” aldus Van der Ryst.