Hy moedig boere daarom aan om hul lot vanself te probeer verbeter deur so goed moontlik te boer.

Hoewel Namibiërs nou vrylik deur die land mag reis, geld die beperking van ’n maksimum van tien mense steeds op byeenkomste, wat veeveilings dus aan bande lê.

Gouws sê die bemarking van vee gaan darem redelik normaal voort, hoewel veepryse met sowat 10% gedaal het. Minder vee word verhandel, maar dit kan deels wees omdat daar min vee weens die droogte oor is en boere nou weer kuddegetalle opbou.

Die meeste dele van die land het goeie reën ontvang, maar ander dele is steeds baie droog. “In die algemeen trek boere steeds ekonomies swaar,” sê hy. Weens die kleiner getalle bemarkbare vee het vleisproduksie ook gedaal.

Al is daar in wese nie veel nuwe vergunnings vir die boere nie, doen Gouws ’n beroep op boere om te konsentreer op dinge waaroor hulle beheer het, naamlik om so goed moontlik te boer, want hulle het nie beheer oor die beperkende reëls nie. “Boer voort en boer goed. Ons is min boere en moet ons werksmag op volle sterkte aanwend.”

Veral toerisme en die jagbedryf kry baie swaar omdat die landsgrense toe is en buitelandse trofeejagters nie daar mag gaan jag nie. Binnelandse toerisme ly ook onder die beperking dat net ’n sekere getal mense in ’n voertuig mag reis, wat nou tot drie in ’n viersitplekvoertuig beperk is.

Die huidige krisis het met die afkondiging van ’n ramptoestand op 17 Maart begin. Sedert 28 Maart was sekere streke aan gedeeltelike inperking onderworpe en vanaf 18 April het die reisbeperkings landwyd gegeld en die grense is toegemaak.

Tans is daar nog minder as 20 bevestigde gevalle van mense wat besmet is in dié land en niemand het nog gesterf nie.

Die landwye inperking word om middernag 4 Mei laat vaar en die land beweeg dan van fase 1 na fase 2 (die fases werk anders as in Suid-Afrika waar fase 5 die hoogste vlak van inperking is en vlak 1 die laagste vlak). Die grense bly nog toe. Vlak 2 geld tot 2 Junie en gaan met ’n geleidelike verslapping van maatskaplike en ekonomiese beperkings gepaard. Vlak 3 (met matige voorsorgmaatreëls) sal tot 30 Junie geld en vlak 4 (met ’n “nuwe normaal”) sal van 1 Julie tot die opheffing van die noodtoestand geld, wat nog vir ses maande duur. Die noodtoestand kan selfs verleng word, indien dit nodig is.

Elke fase duur dus 28 dae, wat gelykstaande aan twee korona-inkubasieperiodes is. Fases kan na die regering se goeddunke verkort of verleng word.

Gedurende fase 2 moet almal gesigmaskers in die openbaar dra. Besighede is weer oop om te koop en verkoop. Dit sluit winkelkomplekse in, maar restaurante mag steeds net wegneemkos verkoop. Plekke soos teaters, gimnasiums, drankwinkels en kroeë bly toe.

Intussen het die regering nuwe arbeidswetgewing afgekondig wat werkgewers verbied om werkers te ontslaan. Selfs besighede wat hul werksmag voorheen wettiglik verminder het, word gedwing om daardie werkers weer in diens te neem en met hulle te onderhandel. Lone en werksure mag net met die werkers of hul vakbonde se toestemming verminder word, wat volgens die NLU strydig met arbeidswetgewing is. Die private sektor is besig om hom vir ’n gesamentlike hofgeding voor te berei.