KANADA | Boere woedend oor ‘oop deur’ vir Trump

Mnr. Justin Trudeau, Kanadese eerste minister, loop tans deur onder belanghebbendes in dié land se melkbedryf omdat hy onlangs in ’n televisie-onderhoud in Amerika gesê het hy is buigbaar om Amerika se melkbedryf groter toegang tot die Kanadese mark te gee.

Die organisasie Dairy Farmers of Canada skryf in reaksie daarop in ’n brief aan Trudeau sy opmerkings is “taamlik kommerwekkend” en “diep verontrustend vir ons melkboere”, gegewe herhaalde ondernemings dat Trudeau die bedryf sal steun.

Kanada se kwota-en-tariefstelsel vir suiwel, pluimvee en eiers is ietwat van ’n heilige koei vir al die land se politieke partye, en in vorige gevalle waar markte vir buitelanders geopen is, het plaaslike boere se markaandeel gely. Pres. Donald Trump van Amerika vra in sy voorstelle oor die Noord-Amerikaanse Vryehandelsooreenkoms (Nafta) dat dié stelsel oor 10 jaar heeltemal tot niet gemaak word. – Bloomberg

INDIË | Nuwe gifwet ‘bevoordeel buitelanders’

Vervaardigers van plaagdoders in Indië meen ’n reëling ingevolge waarvan maatskappye wat klaargemaakte plaagdoders invoer, nie die aktiewe bestanddele van hul produkte by die federale regering hoef te registreer nie, diskrimineer teen die plaaslike bedryf. Plaaslike vervaardigers moet dit registreer.

Die bedryfsbelangegroep Pesticides Manufacturers and Formulators Association of India sê die feit dat dié reëling nie beëindig word in die wetsontwerp wat bestaande wetgewing gaan vervang nie, kom neer op ’n “algehele oorgawe” aan multinasionale maatskappye.

Die huidige bestel het aan multinasionale maatskappye ’n monopolie op die plaaslike mark gegee en plaaslike vervaardigers op hul knieë gedwing. – Agribusiness Global

PERU | Landboumaatskappye ‘steel water’

Hoewel die Peruviaanse provinsie Ica reeds sedert 2005 onder ’n nypende waternood gebuk gaan, bedryf landboumaatskappye daar ’n lonende aspersie-uitvoerbedryf. Volgens die nasionale watergesag van Peru was 314 van die 474 boorgate in dié provinsie verlede jaar ongelisensieerd.

Die aspersielande staan op die grens van die Atacama-woestyn, weggesteek agter hoë mure, sekuriteitshekke en -wagte. Die bestaan van die boorgate is egter bevestig toe joernaliste hommeltuie gebruik het om die plase te besigtig. Pleks daarvan om op te tree teen die maatskappye, het die Peruviaanse owerhede terugwerkend lisensies toegestaan vir boorgate wat onwettig geboor is. – ICIJ