Die invoertarief op suiker is op 3 Augustus vanjaar met bykans 40% van R2 395/ton na R1 443/ton verlaag. Volgens mnr. Donald MacKay, direkteur van XA Internasionale Handelskonsultante, kom die verlaging nadat die internasionale prys van suiker oor die afgelope paar maande skerp gestyg.

“Dit beteken nie dat invoerders goedkoop suiker gaan kan invoer nie. Die tarief word per formule bepaal wat ’n plaaslike dollar-gebaseerde prys met die internasionale prys van suiker vergelyk en dan ’n tarief vasstel. Omdat die internasionale prys redelik gestyg het, beteken dit dat invoerders suiker teen ’n hoër prys aankoop en ’n tarief moet betaal wat bepaal was toe die internasionale prys baie laer was. Die rand het ook redelik versterk teenoor die dollar, wat in werklikheid die tarief nog hoër maak. Dit juis om hierdie redes dat Itac (Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie) besig is om die struktuur van die tarief te hersien,” verduidelik MacKay.

Min uitwerking op boere

Mnr. Charl Senekal, suikerrietboer van Mkuze, twyfel of hierdie stap ’n negatiewe uitwerking op suikerrietboere sal hê. Die bedryf beleef tans ’n beroerde jaar weens droogte wat produsente al vir drie jaar lank kniehalter.

Volgens mnr. Trix Trikam, die uitvoerende direkteur van die Suid-Afrikaanse Suikervereniging (SASA), beoog die bedryf om slegs 14.6 miljoen ton suikerriet vanjaar te oes, wat slegs 73% van die normale 20 miljoen ton per jaar is.

Tarief- struktuur hersien

Volgens MacKay laat die huidige tarief-struktuur voedselverwerkers en vervaardigers wat suiker in hul prosesse gebruik, oor aan baie onsekerheid en onstabiliteit.

“Die internasionale prys het nie oornag gestyg nie, maar met die huidige tarief-stelsel kom die regstelling eers weke en selfs maande later in werking. Dit maak beplanning en begroting vir hierdie verbruikers van suiker baie moeilik en dis nog ’n rede hoekom Itac die huidige struktuur ondersoek.”

Volgens Trikam is ’n stelsel wat op ’n dollar-gebaseerde verwysingsprys (DBVP) funksioneer, ’n goeie model vir verwronge en onstabiele wêreldmarkte soos die suikerbedryf. “Dit is egter baie belangrik om die DBVP op ’n voldoende vlak te hou om die tarief doeltreffend te laat werk.”