“Indien die suikertarief nie aangepas word nie, gaan minstens twee suikermeule hul deure moet sluit en 16 000 duisende werkgeleenthede in die bedryf kan verlore gaan.”

Só meen mnr. Trix Trikam, uitvoerende direkteur van die SA Suikervereniging (SASV). SASV se aansoek by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) om ’n verhoogde invoertarief is op 20 September in die Staatskoerant gepubliseer en het groot kritiek ontlok.

Die Suider-Afrika Suiker Invoerdersvereniging (ASASI) voer aan dat ’n verhoogde tarief ’n bykomende R6 miljard uit verbruikers se sak gaan jaag. “Die tarief verhoging is ’n poging van plaaslike suikerbaronne om hul enorme winste verder te beskerm,” lui ’n mediaverklaring van ASASI.

Laer is as die gemiddelde produksiekoste van suiker
Trikam meen die kapsie uit ASASI-geledere is stuiptrekkings van individue wat hul eie belange beskerm. “Vir die afgelope vier jaar was daar nog nie enkele sent op ingevoerde suiker gehef nie. Hulle (ASASI) voer bykans 400 000 ton suiker per jaar in teen ’n prys wat ongeveer R2 500/ton laer is as die gemiddelde produksiekoste van suiker,” verduidelik Trikam.

Die aansoek om ’n tariefverhoging, wat die dollar gebaseerde verwysingsprys gaan verhoog tot VSA$764/ton, ongeveer die produksiekoste van suiker in Suid-Afrika, gaan ’n belasting van VSA$264/ton op ingevoerde suiker teweeg bring. Trikam meen dit sal nie die verbruikersprys met rasse skrede verhoog nie, aangesien ingevoerde suiker net met oortollige plaaslike produk vervang sal word.

“Dit is verregaande om aan te voer dat verbruikers R6 miljard meer vir suiker gaan betaal, as ons bedryf tans maar R10 miljard werd is. Die suikerprys in Suid-Afrika word ver bokant die wêreldprys gehou, ten spyte van goedkoop invoer, te danke aan meulens wat enorme voorrade opbou omdat hulle weier om die produk teen ’n verlies te verkoop. Dit forseer egter plaaslike meulens om gereeld enorme hoeveelhede suiker, teen ’n verlies, op die wêreldmark te verhandel. Ons voer dus suiker teen US$500 uit, die invoerders voer suiker teen dieselfde prys in, maar die binnelandse prys bly konstant. Die invoerders is dus die enigste mense wat tans noemenswaardige wins maak en ons bedryf word daardeur bedreig” verduidelik Trikam.