Hy het gereageer op nuusberigte dat Rusland glo oorweeg om 15 000 Suid-Afrikaanse boere, glo meestal van die Vrystaat, te verwelkom.

Die berigte is gegrond op ’n berig op Citizen.co.za waarin ’n Russiese televisiestasie, Rossiya 1 TV, aangehaal word nadat onderhoude met Suid-Afrikaanse boere wat dié land onlangs besoek het, uitgesaai is. Mnr. Jann Schlebusch, ’n boer van Bloemfontein, sê hy en sy gesin het onlangs Oos-Europese lande besoek om die opsies ten opsigte van emigrasie en belegging in dié lande te verken. “Ek weet nie waar hulle aan die getal van 15 000 kom nie.”

Schlebusch sê as deel van die feitesending moes hulle terugvoer gee aan sowat 50 boere van reg oor die land wat dit oorweeg om te emigreer. Die Schlebusch-gesin is baie goed in Rusland en Hongarye ontvang. Volgens Schlebusch het hulle teruggekeer met ’n onderneming van ampsdraers van dié twee lande om hul onderskeie regerings meer in te lig oor die veiligheidsituasie op Suid-Afrikaanse plase, asook die situasie rondom onteiening sonder vergoeding. Volgens die onderneming sal die ampsdraers ook met hul onderskeie regerings skakel om moontlik spesiale kanale daar te stel om Suid-Afrikaanse boere wat na dié lande wil emigreer of in boerderye daar wil belê, by te staan.

De Jager sê daar is reeds Suid-Afrikaanse boere op beesplase in Rusland, en daar gaan nou gereeld nog om te gaan kyk. In die res van Afrika is daar 3 000 kommersiële Suid-Afrikaanse en Zimbabwiese boere wat in 42 lande boer, en 1 000 van hulle is in Mosambiek.

Mnr. Tommie Esterhuyse, ondervoorsitter van Vrystaat Landbou wat sowat 4 000 boere verteenwoordig, sê volgens die amptelike statistieke van die provinsiale departement van landbou wissel die aantal boere in die provinsie van 5 500 tot 7 500.

Twee soorte boere

Volgens De Jager is daar twee soorte boere wat boerdery in ander lande oorweeg. Party trek sak en pak, meestal na Australië, Nieu-Seeland, Kanada en Oos-Europa. Ander behou hul boerdery in Suid-Afrika, maar begin ook elders boer om te diversifiseer en hul risiko te probeer verminder. Hul bestemmings is meestal Mosambiek, Zambië, Tanzanië, die Kongo, Nigerië, Ghana en Egipte. “Die eerste groep boere verkoop alles wat hulle besit, en neem hul geld uit die land. Die tweede groep se grootste probleem is finansiering.”

De Jager sê hy ervaar vrees onder Suid-Afrikaanse boere ten opsigte van die huidige situasie, veral wat onteiening sonder vergoeding betref. Hy word gereeld gekonfronteer met boere se vrae soos: Wat is die pad hieruit? Kan ons dit beïnvloed? Presies hoe beoog die ANC om te onteien; kan my nommer ook in daai hoed wees? Wat is my risiko? Wie gaan dit bepaal? Kan pres. Cyril Ramaphosa vertrou word? Wat sê die buiteland?

Volgens De Jager is armoede en honger onder die teleurgestelde plattelandse jeug is die brandstof vir die veldtog agter onteiening sonder vergoeding, en kan dit permanent gestuit word deur armoede en honger nek om te draai. “Ons (die landbou) is die ander deel van Suid-Afrika se storie, maar dan moet ons ons rol speel.”

Armoede en honger kan volgens De Jager slegs gestuit word deur welvaart te skep. “Geen sektor van die ekonomie kan dit vinniger, beter en oor ’n breër basis doen as landbou nie, maar dan moet grondhervorming werk. Die staat gaan dit nie regkry nie. Ons sal as boere moet seker maak dat ons suksevolle swart boere skep.”

Hoofstuk ses van die Nasionale Ontwikkelingsplan skep ’n raamwerk daarvoor, waar vennootskapgedrewe grondhervorming die landbou die geleentheid gee om vrywillig deel te neem, jou vennoot te kies en markwaarde in stand te hou.

“Ons moet herbesin en dit maak werk.” De Jager sê daar is reeds meer as 100 sulke projekte wat suksesvol werk.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.