Die 2020-’21-somerseisoen kan oor die algemeen as matig beskryf word ten opsigte van die temperature oor die grootste deel van Suid-Afrika. Die westelike en suidelike dele, waar min of geen reën voorgekom het nie, het egter baie warm toestande beleef met temperature in onder meer die distrik Upington wat dikwels 40 °C of hoër was. Elders in die binneland het temperature vir kort tydperke bo 30 °C beweeg, terwyl minimum temperature baie naby aan die langtermyngemiddelde was.

“Die laer temperature en bewolkte toestande het veroorsaak dat die groei en ontwikkeling van somergewasse dikwels beperk is. Die meeste grane is nog redelik ver van fisiologies volwasse,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Vroeë ryp kan dus nog ’n baie groot invloed uitoefen op die somergraanoes.”

Wat is die kans op vroeë ryp?

Die normale intreedatums vir ligte ryp is in die laaste deel van April in die sentrale tot suidelike dele  van die land (suid en oos van die breedtegraad by Bothaville), teen middel Mei in die sentrale tot noordelike dele (noord van die breedtegraad by Lichtenburg) en in Junie in die verre noordelike dele (die noordelike helfte van Limpopo).

Van den Berg sê dit moet in gedagte gehou word dat ten spyte van die stadiger groei, die meeste gewasse weens die reën betyds geplant kon word. Die huidige La Niña-verskynsel het begin verswak, maar dit behoort steeds ’n invloed uit te oefen op klimaatstoestande. Tradisioneel hou die reënvalseisoen tydens La Niña-episodes later as normaal aan. Dit reën dikwels nog baie in April en Mei. Dit kan veroorsaak dat die kans op vroeë ryp baie skraal is.

Volgens Van den Berg het die eerste ryp tydens die vorige sterk La Nina-verskynsel in 2011 by Bothaville teen einde April voorgekom, en by Lichtenburg teen einde Mei. “Die kanse is dus baie klein om ryp voor die normale datums te kry, derhalwe is die kanse vir grootskaalse rypskade op somergewasse laag.” 

Reënval

Van den Berg sê namate die son in die komende maande meer noord begin beweeg, sal temperature begin afneem, wat minder energie op die Indiese Oseaan se seeoppervlak veroorsaak, en dus sal die intensiteit van tropiese laagdrukstelsels oos van die land begin afneem. “Dit kan veroorsaak dat heelwat reën in April en Mei oor die binneland voorkom as gevolg van die teenwoordigheid van tropiese vog voor die winter begin.” 

Op kort termyn is die kanse op reën oor die grootste deel van die somerreëngebied baie skraal tot ongeveer 10 Maart as gevolg van die effek van tropiese laagdrukstelsels wat tans rondom Madagaskar voorkom.

Ligte reën is aan die begin van die week moontlik oor die suidelike en westelike dele van die land as gevolg van ’n swak koue front wat aansluiting vind met tropiese vog oor Namibië. “Dit kan reën veroorsaak oor die suidelike dele van Namibië, die verre westelike dele van die Noord-Kaap, soos Springbok, asook suidwestelike dele van die Wes-Kaap waar tot 10 mm kan voorkom,” sê Van den Berg. “Daar is ’n moontlikheid dat die baie droë dele van die suidwestelike binneland van die Noord-Kaap soos Williston, Carnarvon en Sutherland ligte reën kan kry.” 

Die stelsel sal teen Woensdag oor dié gebiede opklaar, en later in die week uitbrei na die suid- en ooskus van KwaZulu-Natal.

Van 10 Maart af verbeter toestande weer vir reën oor die sentrale, noordelike en oostelike dele van die binneland.