Beteken dit egter die winter, ryp en gevolglik die winterreënseisoen is verby?

Die laaste datums vir ryp in die sentrale binneland wissel volgens weerrekords van middel tot einde September. “Huidige korttermynvoorspellings toon ’n moontlikheid van ligte ryp rondom 14 tot 16 September oor die Vrystaat, Oos-Kaap en suidelike dele van die Noord-Kaap wanneer minimum temperature van benede 5 °C kan voorkom en skade in laaggeleë dele kan veroorsaak,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Volgens Van den Berg kan gewasse soos koring wat begin are vorm, dan skade opdoen, hoewel groei redelik vertraag is deur die koue winter. “Permanente gewasse soos vrugte- en neutbome, asook druiwe wat vroeg bot, se risiko vir skade is hoër. Die kans op verdere grootskaalse baie koue toestande is egter skraal.”

Warmer temperature gaan in die eerste deel van Oktober oor veral die sentrale, noordelike en westelike dele van die binneland voorkom.

Reën

Oor die winterreënstreek begin die vooruitsigte op verdere reën verswak. Ligte neerslae is nog moontlik oor die Suidwes-Kaap tot die laaste week van September. Oor die Suid-Kaap en die Tuinroete kan ten minste drie stelsels nog reën in September bring. Die kans op reën oor die Suid-Kaap in Oktober lyk goed, maar dit kan probleme met wintergewasse se gehalte veroorsaak, aangesien dit dan oestyd is in dié gebied, sê Van den Berg.

Kort- en mediumtermynvoorspellings vir die somerreënstreek dui aan dat reën van 14 tot 20 September oor die oostelike en suidoostelike dele van die land kan voorkom.

Intussen het stormsterk winde van meer as 50 km/h langer as 24 uur aanmekaar gewaai in die eerste paar dae van September. Die oorsaak was ’n sterk laagdrukstelsel wat oor die westelike dele van Botswana en die Noord-Kaap ontwikkel en suidwaarts beweeg het om ’n afsnylaagdrukstelsel te vorm oor die suidelike binneland. Verder het vogtige lug vanaf die Indiese Oseaan en tropiese lug oor Sentraal- en Wes-Afrika veroorsaak dat reën voorgekom het oor die oostelike dele van die land.

Die meeste reën in dié tydperk is in die sentrale tot suidelike binneland gemeet. Noupoort in die droogtegeteisterde dele van die Noord-Kaap het meer as 30 mm gehad, De Aar 18 mm en Prieska 10 mm. Redelike swaar neerslae het ook in die aangrensende dele van die Oos-Kaap voorgekom met Queenstown wat byna 50 mm gekry het, Cradock sowat 30 mm en Fort Beaufort 11 mm.

Die swaarste neerslae het in die Wes-Kaap voorgekom met Villiersdorp en Jonkershoek wat 40 mm en meer gemeet het, en die Paarl wat meer as 30 mm gemeet het. Goeie neerslae is in die Tuinroete gemeet met George wat meer as 100 mm gekry het en Riversdal, Heidelberg, Swellendam, Mosselbaai en Plettenbergbaai wat meer as 20 mm gekry het. Ligter neerslae het in die binneland voorgekom met Wepener wat 17 mm gemeet het, Tzaneen 22 mm, Taung 14 mm, Graskop 20 mm en Lichtenburg 6 mm.