Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê hoewel ’n sterk tropiese laagdrukstelsel in Februarie vanjaar oor die binneland beweeg en redelike swaar reën oor die binneland veroorsaak het, gebeur dit min en is die uitwerking van so ’n stelsel gewoonlik beperk tot die Indiese Oseaan en die aangrensende kusgebiede.

“Dit was die geval vir die res van Februarie en groot gedeeltes van Maart toe sikloon- en tropiese laagdrukaktiwiteite in en rondom die Mosambiekkanaal voorgekom en droër toestande oor die somerreëngebied tot gevolg gehad het.”

Van den Berg sê die seisoen vir siklone of tropiese laagdrukstelsels strek normaalweg van November tot Maart. “Siklone ontstaan wanneer die oppervlaktemperature van die oseaan warm genoeg is om ’n sterk styging van lug tot gevolg te hê om die vogtige lug hoër in die atmosfeer te neem om weer af te koel sodat wolke en reën kan vorm. Dit reën dus baie in die gebied waar die sikloon voorkom, terwyl droë toestande voorkom waar die uitgereënde lug weer daal na die oppervlakte verder weg van die middelpunt van die sikloon.”

Siklone ontstaan gewoonlik wanneer seeoppervlaktemperature oor ’n redelike groot gebied konstant bokant 25 °C tot 26 °C is. Lae temperature gedurende die winter verminder die energie op die seeoppervlak, en het derhalwe min tot geen siklone of sterk tropiese laagdrukstelsels tot gevolg.

Tweede deel van April

Volgens Van den Berg is seeoppervlaktemperature nog tussen 27 °C en 30 °C oor ’n redelike groot gebied oos van Madagaskar, wat bogemiddeld warm is en dui op tropiese laagdrukaktiwiteite. “Redelike sterk laagdrukstelsels kan weer in die eerste week van April begin ontwikkel oor die gebied oos van Madagaskar, wat reënvaltoestande vir die eerste deel van April oor die binneland kan verswak, hoewel weermodelle aanvanklik redelik goeie neerslae aangedui het.”

Die teenwoordigheid van die tropiese laagdrukstelsels in die Indiese Oseaan is slegte nuus vir die westelike en suidwestelike binneland, want dié gebiede kry gewoonlik van Maart tot Mei hul beste reënval, wat beteken die stelsels verkort die potensiële reënseisoen.

“Ná die middel van April behoort toestande weer te verbeter en daar is steeds ’n kans op reën in die laaste week van April en die eerste deel van Mei oor hierdie gebiede,” sê Van den Berg. “Omdat distrikte soos Williston, Carnarvon en Calvinia soms met sterk frontale stelsels winterreën kry, is daar ook ’n kans op winterreën oor hierdie gebiede.”

Oor die baie droë dele van die Oos-Kaap verbeter toestande vir reën vanaf middel April, met gebiede soos Jansenville, Steytlerville en Willowmore wat 20 mm of meer kan kry in die laaste deel van April en eerste deel van Mei. Dit lyk egter nie of die neerslae voldoende gaan wees om die droogte te breek en veral damme in die Nelson Mandela-metropool en aangrensende landbougebiede aan te vul nie.

Stroop vroeë somergewasse

Van den Berg sê die laagdrukstelsels kan in die laaste deel van April en die eerste deel van Mei reën oor die somergraangebied tot gevolg hê. “Dit kan probleme veroorsaak vir die stroop van veral sojabone, sonneblom en droëbone.”

Van den Berg sê produsente moet voorbereid wees om vinnig te kan stroop of oes die seisoen. Tans dui toestande op min of geen reën in die eerste deel van April en baie vroeë sojabone en sonneblomme moet dus so vinnig moontlik gestroop word.