Dit was die mening van me. Edna Molewa, Minister van Omgewingsake, en mnr. Philemon Mapulane, voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir omgewingsake, tydens ’n tweedaagse seminaar om insette te kry of die jag van leeus in gevangenskap die land se reputasie vir omgewingsbewaring skaad.

Die Departement van Omgewingsake het vroeër vanjaar die jaarlikse uitvoerkwota vir leeubene vanaf 800 tot 1 500 verhoog ná nuwe navorsing bevind het die handel in leeubene benadeel nie die beskerming van leeus nie.

Molewa het op die seminaar gesê Suid-Afrika se reputasie vir die beskerming van leeus is baie goed. Die land het 3 500 wilde leeus, waarvan 83% hulle in beskermde gebiede soos die Krugerwildtuin, Kgalagadi-oorgrenspark en die Hluhluwe-Imfolozipark bevind, waar jag verbied word.

Die res van die leeubevolking, sowat 500, bevind hulle in 45 kleiner beskermde gebiede, waar leeus weer bekendgestel en intensief bestuur word.

Sy sê daar is bevind dat die land se wilde leeubevolking nie groot bedreigings in die gesig staar nie.

Onlangse kwantitatiewe data wys dat die leeubevolking stabiel is, soos die olifantbevolking.

Groot besluit

Molewa het gesê as die Regering wel besluit om die beleid te verander, sal breër besprekings met al die belanghebbendes gedoen word. Sowat 7 000 leeus word in aanhouding geteel. Daar is ’n siening dat dié praktyk tot stroping lei, maar dit moet nog bewys word.

Molewa het benadruk dat ’n weldeurdagte besluit rakende ’n verbod op die teel van leeus in aanhouding gemaak moet word, want dit sal daartoe lei dat duisende leeus sonder versorging vrygelaat word.

Op die seminaar het die meeste bewaringsorganisasies gevra dat die jag van leeus in aanhouding geheel en al verbied moet word. Maar sommiges het gevra dat dié praktyk slegs strenger gereguleer moet word.

Die portefeuljekomitee sal nou alle insette oorweeg en voorstelle saamstel wat in die Nasionale Vergadering voorgelê sal word. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.