Die El Niño-stelsel wat die afgelope somerseisoen geheers het, het egter teen Julie verswak. Dit het daartoe gelei dat reënvaltoestande in die winterreënstreek tans minder gunstig is.

Mnr. Johan van den Berg, landbouweerkundige van Santam Landbou, sê in teenstelling met aanvanklike voorspellings het minder reën in Augustus en tot dusver in September voorgekom. Dit blyk dat die neerslae wat wel voorgekom het, baie lig was. Daarmee saam het temperature gestyg en plante se waterverbruik verhoog.

Weermodelle dui tans aan dat min reën vir die res van September verwag kan word, wat die wintergraanaanplantings verder kan benadeel. “Toestande vir reën lyk egter beter in die eerste twee weke van Oktober, maar in baie gevalle kan dit reeds te laat wees of selfs grane wat begin ryp word, nadelig beïnvloed,” sê Van den Berg.

Die droër toestande oor dele van die winterreënstreek gaan volgens Van den Berg ’n impak op wintergraan-oeste hê.

Somerreënvalgebied

Droogte en rypskade is die grootste risiko’s vir droëland-koringproduksie in die somerreënstreek. Hoewel opgegaarde grondwater gebruik word om veral koring te produseer, is reën in September en aan die begin van Oktober belangrik vir goeie oeste.

“Tans lyk dit asof daar ’n redelike kans is op 10 mm tot 20 mm reën in die eerste week of twee van Oktober oor die koringproduserende gedeeltes van veral die Oos-Vrystaat,” sê Van den Berg, “Indien dit voorkom, sal dit betyds wees aangesien aanplantings redelik laat gedoen is.”

Die warmer toestande wat tans heers, het moontlik reeds skade begin aanrig aan droëland-koringproduksie in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat.

Kans op laat ryp?

Volgens Van den Berg is die meeste koring in die somerreëngebied, wat besproeiingsgebiede insluit, baie gevoelig vir ryp en skade weens koue van die begin van September aangesien die halms wat die saad dra, dan bokant die grond begin uitkom.

“Voorspellings dui tans ’n baie lae waarskynlikheid van rypskade verder in die seisoen aan,” sê Van den Berg. “Dit lyk eerder asof reën kan begin voorkom in die volgende paar weke. Die vogtige lug sal ook meer egalige temperature tot gevolg hê. Dus lyk rypskade vir die res van die seisoen onwaarskynlik.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.