FedGroup, ’n beleggingsfondsbestuurder met meer as 27 jaar ervaring, het die platform, Impact Farming, op die been gebring. Vir so min as R300 per aandeel – wat ’n bloubessiebos, sonpaneel of ’n byekorf kan wees – kan enigiemand geld in ’n bestaande boerdery belê.

Volgens mnr. Grant Field, uitvoerende hoof en stigter van FedGroup, wou hulle die beleggingsomgewing deursigtiger maak. “Met normale fondse is daar laag-op-laag-beleggings en die belegger het dikwels nie ’n benul waarin sy of haar geld belê word nie.”

Die groep wou tweedens ook ’n platform skep wat die kostedoeltreffendheid van tradisionele beleggingsfondse bekyk en tegnologie het in hierdie opsig ’n oplossing gebied. “Ons het gaan kyk na wat Airbnb en Uber doen en wou dieselfde beginsel van ’n meerdoelige platform, waar die verbruiker en die diensverskaffer of die boer met mekaar verbind word, vir beleggings en finansiële dienste op die been bring.”

Die belegging kan volgens FedGroup ’n opbrengs van tot 12% per jaar op jou belegging tot gevolg hê, op voorwaarde dat jou belegging vir vyf jaar in die fonds bly. Die belegger kan besluit of die opbrengs aan hom of haar uitbetaal moet word, of herbelê moet word.

Hoë risiko belegging

“Dit is ’n hoërisiko-belegging en ons maak dít duidelik aan ons beleggers. Ons sorg vir versekering teen natuurrampe. Indien ’n belegger se byekorf, bloubessiebos of sonpaneel dus in ’n storm verwoes word, sal ons dit kan vervang sonder koste of verlies aan die belegger.” Die opbrengs van die eenheid waarin belê word, kan egter nie verseker word nie. “Ons kan nie die prys van bloubessies verseker of waarborg dat die son sal skyn nie. Indien jou sonpaneel dus nie op ’n bewolkte dag krag opwek nie, gaan dit nie daardie dag ’n inkomste verdien nie en jy gaan nie ’n opbrengs verdien nie.”

Die projek word reeds die afgelope 18 maande getoets, met 5 000 vooraf-registrasies wat reeds ontvang is. Volgens FedGroup se inligting is dit veral jonger mense wat in die belegging belang stel. Field verduidelik dat die tipe belegger wat in die opsie belang stel nie net op opbrengs ingestel is nie, maar ook daarop om ’n gunstige uitwerking op hul omgewing te hê.

“Hulle is nie soseer daarin geïnteresseerd om in boerdery te belê nie, maar soek iets wat deursigtig is en wat met hul morele instelling teenoor die lewe ooreenstem. Hulle is winsgedrewe en wil geld maak, maar nie tot elke prys nie.”

Kundige vennote

Die sonpaneel-been van die Impact Farming-platform is reeds verlede jaar van stapel gestuur toe FedGroup die Emergent Energy-maatskappy gekoop het. Die byeproduksie vir die platform word behartig deur Global Honey Exchange, ’n konglomeraat van ’n aantal byeboere regoor Suid-Afrika. Vir die bloubessieproduksie het FedGroup ’n vennootskap met United Exports aangegaan om die verbouing van die kultivar OzBlu in Suid-Afrika te behartig.

Field sê daar is geleentheid vir boere van ander bedrywe om by hierdie platform betrokke te raak. Dít sal hulle toegang tot kapitaal kan bied. “Boerdery is ’n hoë risiko vanweë die mate waarin dit aan onbeheerbare faktore blootgestel is. Die bates wat ons as geleenthede (sonpanele, byekorwe en bloubessies) geïdentifiseer het, is van dié met ’n betreklik lae risiko in die landbou. Daar is egter geen rede hoekom hierdie model nie vir enige ander bate kan werk nie.”

FedGroup wil ook boerderytipes wat meer riskant is by die model insluit. Die betrokke beleggers sal tydig in kennis gestel word dat dié tipe belegging ’n hoërisiko-belegging is. “Dit sal egter nie voor einde Junie vanjaar gebeur nie. Ons is nietemin op soek na nuwe geleenthede en vervaardigers wat bereid is om verskaffers te word,” verduidelik Field.

Vir meer inligting, besoek FedGroup se webtuiste by: www.fedgroup.co.za