Hy het in ’n onderhoud vir Landbouweekliks by die Afgri-standplaas by die Nampo-Oesdag sy insette oor die graanmark gegee. “Die mark is vinnig besig om te swaai met die voermark wat die oorskot mielies begin absorbeer.” 

Suid-Afrika se eerste vrag witmielies is op pad na Spanje nadat die eerste uitvoerkontrak onlangs met dié land aangegaan is. Graanpryse kan wel verbeter as China se ekonomie weer aan die gang kom ná die handelsoorlog tussen China en Amerika. 

Wat die mielieprys betref, sê De Villiers, is langtermynbeplanning belangrik, want boere sal steeds ’n wins moet kan maak as pryse rondom R2 000/t is. 

Sojabone in die weste

De Villiers sê alternatiewe gewasse word ondersoek en daar word ook gekyk na die uitbreiding van sojaboonaanplantings in die weste van die land. “Boere het sojabone in die weste begin toets, maar ons kort ’n sojapers in die weste.” Die vervoerdifferensiaal speel ook ’n rol, asook houvermoë om byvoorbeeld die uitbreking van siektes te beperk. 

Die organisasie en sojabedryf moet die plaaslike bedryf oorreed om meer sojabone uit die plaaslike mark te koop, veral aangesien 400 000 ton tot 500 000 ton sojabone ingevoer word. 

Gee aandag aan bemarking

Volgens De Villiers moet boere meer aandag aan hul bemarking gee. 

“ ’n Mens kan amper sê die pen is swaarder as die ploeg. Dis baie makliker om op die lande te boer as om agter ’n rekenaar in te skuif en te verstaan wat op Safex gebeur.” 

Hy moedig boere aan om hul kundigheid oor bemarkingsvaardighede op te skerp soos wat hulle gedoen het met hul kundigheid om groter oeste te kon lewer. 

“Ons sien ook dat ál meer boerekopers wat groepe vorm en saam begin bemark en hulle kry kundiges om hulle te help.”