Veral die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes, die noordelike dele van die Oos-Kaap, westelike dele van Limpopo en Gauteng kan in dié tydperk reën verwag.

Die La Niña-stelsel wat sedert middel verlede jaar ontwikkel, het nou na verwagting volwassenheid bereik, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige. “Die Suidelike Ossilasie-indeks (SOI) – die maatstaf van koppeling tussen die see-oppervlaktemperature en heersende klimaat van die Niño-gebied – is steeds besig om sterker La Niña-neigend te word.”

Volgens Van den Berg is dié neiging baie gunstig vir verdere reënval vir veral die somerreëngebied tot in die herfs. “Dit is moontlik dat droër toestande ooswaarts kan begin intree in Mpumalanga en KwaZulu-Natal gedurende Februarie.”

Nog swaar reën

Op kort tot mediumtermyn verbeter die kans op enkele tot verspreide buie weer van vandag (8 Januarie) tot die begin van volgende week oor bykans die hele land, met die uitsondering van die westelike dele van die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, asook westelike binneland van die Oos-Kaap. Min of geen reën word oor dié gebiede tot ongeveer 21 Januarie verwag nie.

“Vanaf ongeveer 22 tot 25 Januarie word redelik swaar reën weer oor die grootste deel van die land verwag, wat insluit groot gedeeltes van die Noord-Kaap, asook Namibië tot so ver oos as Mpumalanga. Hierdie stelsel het die potensiaal om oorstromings te veroorsaak gegewe die nat toestande en versadigde grond en vol damme,” sê Van den Berg.

Baie min reën word oor die Wes-Kaap in dié tydperk verwag, met reën wat van 11 tot 13 Januarie oor die Tuinroete moontlik is. In die komende weke gaan temperature baie hoog wees in die westelike en sentrale binneland van die Wes-Kaap, met koeler weer oor die Suidkus.

Swaar neerslae

Die verwagte effek van die La Niña-stelsel het van middel Desember af duidelik geword met baie swaar reën oor veral die sentrale tot westelike dele van Suid-Afrika, dele van Namibië en Botswana. Die afgelope twee weke het van die swaarste neerslae oor die sentrale tot suidelike dele van Namibië, die Vrystaat en Noord-Kaap voorgekom.

Skade en oorstromings is onder meer rondom Augrabies, Onseepkans en Upington in die Noord-Kaap en by Hoopstad, Wesselsbron en Bultfontein in die Vrystaat aangemeld. Van den Berg sê probleme word veral ondervind in dele waar reën sedert middel Desember voorgekom het en grond versadig is. Van 6 Desember af het Bothaville reeds meer as 230 mm gehad, Fouriesburg 387 mm, Hoopstad 240 mm, Wesselsbron 331 mm en Coligny 244 mm.

swaar reën Edenville
Water trek nie meer weg in landerye op die plaas Heuninglaagte in die distrik Edenville nie. Foto: Pierre van Eeden
swaar reën Edenville
Water trek nie meer weg in landerye op die plaas Heuninglaagte in die distrik Edenville nie. Foto: Pierre van Eeden

Mnr. Pierre van Eeden, ’n boer van Heuninglaagte in die distrik Edenville in die Vrystaat, sê die gemiddelde jaarlikse reënval op dié plaas is 550 mm. Sedert begin November verlede jaar tot vroeg op Dinsdagoggend 5 Januarie 2021 het hy 522 mm gemeet. Met die reën wat sedertdien geval het, het hy reeds meer as 550 mm gemeet. “Hoewel daar kolle in van die mielielanderye is met waterskade, staan die rooigras borshoogte. Dis amper asof mens te min beeste vir al die veld het,” vertel Van Eeden opgewonde.

Ook oor gedeeltes van die droogtegeteisterde Noord-Kaap se ekstensiewe weidingsgebiede was daar uitkoms begin Januarie. By Postmasburg is sowat 100 mm gemeet, meer as 60 mm by Fraserburg, 40 mm by Calvinia en selfs Vioolsdrif het 40 mm gemeet. Van die min gebiede waar die droogte intens voortduur, is in en rondom die Baviaanskloof in die Oos-Kaap in distrikte soos Willowmore, Steytlerville en Jansenville, asook ander dele van die Oos-Kaap en aangrensende binneland van die Wes-Kaap.

Waarskuwings en aanbevelings

Van den Berg het die volgende waarskuwings en aanbevelings vir boere met die reën wat nog in Januarie verwag word:

• Swaar reën is moontlik in Januarie wat kan lei tot oorstromings, veral van 22 tot 25 Januarie. Wees versigtig vir laaggeleë gebiede en ontruim nie-noodsaaklike werktuie, asook alle vee wat in veral riviergebiede loop. Dit geld vir die grootste deel van die somerreëngebied.

• Minder reën word middel Januarie (13 tot 19 Januarie) verwag en dan moet graanboere alles in hul vermoë doen om bobemesting toe te dien en onkruide te bekamp in landerye wat begaanbaar is. Lusernboere wat wil hooi maak, moet dié tydperk daarvoor gebruik, voor die swaar reën teen 22 Januarie begin voorkom.