Mnr. Ross Lowe, ’n kiwiboer van Richmond in KwaZulu-Natal, is aangewys as Toyota SA en KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar.

“Die rol van jongboere in die Suid-Afrikaanse ekonomie is ongelooflik belangrik. Ons is die toekoms van ons land se voedselsekerheid. Ons is die rentmeesters van grond in ons land en ons moet dit vir die volgende generasies oppas,” het Lowe met die ontvangs van die toekenning gesê.

Lowe is een van slegs 16 produsente van goue kiwi’s in Suid-Afrika produseer. Die gewas stel enorme eise aan produsente. Produksiepraktyke van die goue kiwi is tegnies veeleisend en het ’n groot invloed op gehalte, wat beteken dat produsente ten alle tye direk by die produksieproses betrokke moet wees om sukses te verseker.

LEES OOK: Goudvelder Vrystaatse top-jongboer

Strategiese skuif

Lowe het sewe jaar gelede gekies om met die goue kiwi, eerder as die groen kiwi, te boer omdat dit na sy mening ’n mark met groter potensiaal vir groei het. Die goue kiwi lewer ook 30% tot 50% hoër opbrengste as die groen kiwi.

Lowe boer op die plaas Riverton saam met sy vrou, Carla, en twee kinders. Tans boer Lowe met kiwi’s, aartappels en kool, maar sy visie is om die groente uit te faseer en slegs met kiwi’s te boer. “Kiwi’s het ’n relatiewe klein oppervlakte nodig om ’n hoë opbrengs en inkomste te realiseer,” verduidelik Lowe.

Lowe het gehelp om sowat ’n jaar gelede die Suidelike Kiwiprodusentevereniging te stig, wat dien as ’n platform vir produsente om kennis en ervaring uit te ruil en die beste produksiepraktyke te verfyn.

Me. Sandy la Marque, uitvoerende hoof van Kwanalu, is opgewonde oor die jong boere wat passievol is oor boerdery.

“In Ross het ons ’n wenner. Hy is iemand wat landbou na die volgende vlak kan neem deur nuwe geleenthede te ontgin en ons wens hom alles van die beste toe vir die nasionale kompetisie.”

LEES OOK: Agri NW wys beste jong boer aan