Dit sal egter wys wees om eerder uit die Breederivier te bly, want ’n onbekende getal van dié reptiele word vermis.

CapeNature, plaaslike inwoners, die eienaar van die plaas en die polisie het gister die krokodille, wat van 1,2 m tot 1,5 m lank is, gevang. Luidens ’n verklaring deur die departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning is hulle nie besonder gevaarlik nie aangesien hulle by die plaas gevoer is en nie self vir hul kos jag nie. Hulle bly egter wilde diere met instinkte en is gevaarlik.

Mnr. Anton Bredell, minister van dié departement, versoek die Bonnievale-gemeenskap en gemeenskappe in omliggende gebiede om die Breederivier te vermy en op die uitkyk te wees vir die ontsnapte krokodille.

“ ’n Gebied van sowat 5 km stroomop in die rigting van Robertson en 5 km stroomaf in die rigting van Swellendom is die belangrikste gebied. CapeNature en sy vennote sal aanhou soek na die diere en het ’n aantal lokvalle gestel om die ontsnapte diere te vang. Die rivier sal ook saans gepatrolleer word.”

Enigiemand wat ’n krokodil sien, kan CapeNature by 087 087 9262 kontak.