Hy is die tweede lid van Agri-Expo, en een van nét twee uit Afrika, wat op dié raad dien. 

Milford, operasionele bestuurder by Agri-Expo, die oudste landbougenootskap in Suid-Afrika, en voorsitter van die Nasionale Landboujeugvereniging, is sedert 2008 ’n lid van die RASC se Next Generation-forum vir landbouers jonger as 40. Daar is slegs twee plekke vir Next Generation-lede op die RASC-trusteeraad. Milford is tydens die RASC se algemene jaarvergadering vroeër die maand in Trinity, Jersey, in die Kanaaleilande tot die raad verkies. 

Milford volg in die voetspore van mnr. Johan Ehlers, hoof- uitvoerende beampte van Agri-Expo, wat reeds sedert 2017 ’n RASC-trusteeraadslid is. Milford en Ehlers is tans die enigste twee raadslede uit Afrika.

Milford sê dit is die eerste keer wat ’n Next Generation-lid uit Afrika in die trusteeraad dien, en alle eer kom Agri-Expo toe: “As RASC-lid ontgin Agri-Expo al vir langer as ’n dekade voortdurend hierdie platform om ’n positiewe beeld van die Suid-Afrikaanse landbousektor internasionaal uit te dra.”

Ehlers sê die RASC is die enigste spreekbuis van die landbou in die Statebond. “Die RASC werk nóú saam met die Statebond-sekretariaat en sy filiale. Die organisasie verteenwoordig sowat 60 landbouverenigings, -genootskappe en navorsingsinstansies uit meer as 20 Statebondlande.”

Afrika-lede van die RASC kom uit Botswana, Kameroen, Tanzanië, Kenia, Zambië, Malawië, Uganda en Mauritius, met Agri-Expo en die Royal-skou in Natal die enigste lede uit Suid-Afrika.

Ehlers sê die RASC skep waardevolle geleenthede vir internasionale samewerking binne die landbou. “Agri-Expo het reeds in 2018 as gasheer opgetree vir die eerste Next Generation-ondersteuning-en-begripsmissie na Suid-Afrika. Milford was die leier van dié missie na Suid-Afrika met die tema ‘Om die gaping tussen opkomende en kommersiële boere te oorbrug’.”

Die Statebond se tweejaarlikse landboukongres is volgens Ehlers die RASC se belangrikste platform. Milford en Ehlers was sprekers by die onlangste kongres in November 2018, in Edmonton, Kanada. Dié kongres kom in 2022 na Suid-Afrika, wanneer die 30ste kongres van 13 tot 18 November 2022 in die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum aangebied word. 

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, sê Agri-Expo se aanwysing as gasheer vir die Statebond se 30ste landboukongres in 2022 – die eerste keer in Kaapstad – skep ’n ideale geleentheid om die wêreld se aandag op die landbou in Suid-Afrika te vestig. “Ek is baie trots op Milford se aanstelling as RASC-trusteeraadslid, want sodoende word Suid-Afrika se landbouers internasionaal erken vir hul bydrae, passie en toewyding tot ons landbou.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.